Vuurwarm vermaak by Innibos se kuierverhoë!
Die Innibos-feesterrein gaan vanjaar weer ’n wye verskeidenheid musiek aanbied.

Innibos het drie kuierverhoë waar van die land se topkunstenaars optree en daar is beslis iets vir elkeen se smaak.
Die Arena-verhoog is op die boonste veld geleë (reg oorkant die hoofverhoog), die kykNET Leefarea-verhoog in die Bosmôl en die KMI Airport-verhoog in die kunspark. Die kunspark ondergaan hierdie jaar ’n gedaantewisseling.
Dit gaan aan feesgangers ’n rustige plek bied om moeë voete te laat rus, kele nat te maak en na uitstekende musiek te luister. Bekendes wat deur die loop van die feesdae op die kuierverhoë gaan optree, is onder andere Burgerd Botha, Caroline Grace, Ghapi, Jakkie Louw, Jan Bloukaas, Jennifer Zamudio, Martin Bester, Pieter Koen, Pieter Smith en Wolwe-Dans.

Al die vermaak op die kuierverhoë is by die hektoegang ingesluit. Die volledige terreinprogram is by die hekke en op die webwerf beskikbaar. Onthou, as is verbrande hout! Moenie sê “As ek maar…” nie.
Sorg dat jy ’n draai by die feesterrein maak!






