Moderne maar tawwe Triton nou in SA
Mitsubishi is nie sommer enige hierjy-vervaardiger as dit by bakkies kom nie. Met meer as 40 jaar se ondervinding van bakkies bou is dit geen wonder dat die jongste Triton-bakkie so beïndruk nie.

In Suid-Afrika was die Colt-reeksbakkies van weleer ook baie gewild. Verder is die Triton gebou uit ervaring wat onder meer ongeëwenaarde sukses in die epiese Dakar-woestynren gesmaak het.
Ses maande gelede is die nuweling aan die wêreld bekend gestel en nou het die jongste Triton ons hier op plaaslike bodem kom verras met ‘n moderne, maar tog tawwer-as-terminatorvoorkoms.

Terwyl die nuwe Triton in wese slegs ‘n verjongingskuur ondergaan het (die heel nuwe Triton word in 2021 verwag), is daar ook etlike verbeterings en verfynings in die kajuit en onder die bakwerk aangebring.
Voorkoms
Aan die voorkant tref die nuweling met Mitsubishi se jongste weergawe van die “Dynamic Shield”-ontwerpfilosofie wat die nuut ontwerpte hoofligte en dagryliggies beklemtoon.
Van die kant beskou vertoon die sterk lyne, skerp hoeke en ronde kurwes van die uitgeboude wielboë modern en tog ook aggressief. Ook die nuwe agterligontwerp bring ‘n vars voorkoms.

Die resultaat beklemtoon ‘n forse dinamiese voorkoms, laat die koppe draai en maak die nuwe Triton myns insiens tans die mooiste bakkie op plaaslike paaie.
Nuwe bakkleure soos Sunflare Orange, Diamond White Metallic en Graphite Grey Metallic gaan kopers ook meer keuses bied.
Kajuit
Binnekant is die kajuit van die nuweling omvattend verbeter en vernuwe. Terwyl die robuuste en tawwe bakkiebeeld steeds behou is met veral die skakelaars, skep die gehalteafwerking en sagte oppervlaktes ‘n algehele ervaring van luukse moderne gemak.

Die lang lys standaard toerusting sluit onder meer in leerbekleedsel, ‘n leeroorgetrekte stuurwiel (met skakelaars vir die klank- en spoedbeheerstelsels) wat teleskopies sowel op en af kan verstel en elektriese verstelling vir die vensters, kantspieëls asook die bestuurdersitplek.
ALSO READ: Raring to take on the dirt road
Daar is ook dubbelsone-outomatiese lugversorging standaard asook sleutellose toegang en ‘n trukamera om met parkering te help.
Verder bied die netjiese hoëdefinisie-raakskerm middel bo in die voorpaneel toegang tot ‘n radio/CD-klankstelsel met MP3-speler wat met Bluetooth ook koordlose stemopdragte kan uitvoer. Die stelsel is ook met Apple CarPlay en Android Auto (opsioneel) aanpasbaar. Verder is USB- en 12V-sokke ook standaard.

Die verbeterde 4WD-stelsel wat nou met elektroniese veldrybystand toegerus is, se ritmodusse word met ‘n draaiknop verstel wat op die middelkonsole tussen die voorste sitplekke geplaas is.
Die skakelaars vir “Heuwel-af”-beheer (Hill Decent Control) asook “Heuwel-hou” is by die draaiknop geplaas wat die bestuurder die opsie gee om te kies tussen 2H (normale paaie), 4H (grond-en-sandpaaie), 4HLc (modder, gladde sneeupaaie en dik sand) en 4LLc (uitdagende viertrekroetes en rotsklim) na gelang van die terrein en padoppervlakte.
Veiligheid
Die 2019 Mitsubishi Triton se slagspreuk van “Engineered Beyond Tough” is nie bloot net ‘n bemarkingsterm nie. Die nuweling behou die bestaande model se uiters sterk en hoogs betroubare leerraam-tipe onderstel wat sorg dat die Triton se kajuitstruktuur uiters veilig is tydens ‘n botsing.

Verder is die nuwe Triton toegerus met klasleidende passiewe en aktiewe gevorderde veiligheidstelsels wat onder meer insluit: RISE- (Reinforced Impact Safety Evolution) bakkonstruksie, sewe lugsakke, kantimpak-beskermingstawe, ISOFIX-hegpunte, ASTC (Active Stability and Traction Control), ABS (Anti-lock Braking System), EBD (Electronic Brake-force Distribution), BAS (Brake Assist System), HSA (Hill Start Assist System) asook deure wat outomaties sluit wanneer daar bo ‘n spesifieke spoed gery word.
Enjin en verrigting
Die 2019 Triton gebruik steeds die uitgaande Mitsubishi se beproefde 2,4L MIVEC-Turbodiesel- “Common Rail”-enjin met direkte inspuiting wat gekoppel is aan ‘n heel nuwe sesspoed-outomatiese ratkas.
Die enjin lewer 133 kW@3 500 r/min-piekkrag en 430 Nm-wringkrag wat reeds by 2 500 r/min beskikbaar is. Brandstofverbruik vir die outomatiese Triton word amptelik aangegee as 7,6 liter/100 km in ‘n gekombineerde siklus van stad-en-ooppadry.

‘n Sesspoedhandratkas-opsie is wel beskikbaar met amptelike brandstofverbruik van 7,5 liter/100 km. Volgens Mitsubishi beskik die nuwe ratkas oor “Intelligent Shift Control” wat sorg dat enjinkrag, brandstofverbruik en gladde versnelling gebalanseer word ten einde die bes moontlike rygerief en minste kajuitgeraas te verseker.
Die 2019 Triton kan 3 100 kg sleep. By die AWD-modelle word krag na al vier wiele gestuur via Mitsubishi se Super Select II 4WD-Stelsel met “Electronic Off-road Assistance”. Heuwelaf-beheer en ‘n agterste ewenaarslot is beskikbaar as verdere hulp wanneer daar in die boedoes gekerjakker word.

Tydens die bekendstelling kon ons die nuwe Triton deur en oor ‘n uitdagende veldryroete neem. Met die nuutste generasie Super Select II 4WD-stelsel wat in die outomatiese modelle oor ‘n “Off-road”-modus beskik, kan die bestuurder kies tussen Grond, Modder, Sneeu, Sand of Rotse wanneer die beheerknop in die “4LLc”-opsie geskakel is.
Wanneer die “OFF-road”-modus ingeskakel is, beheer die stelsel die hoeveelheid enjinkrag, kies die korrekte rat vir die terrein en reguleer terselfdertyd ook die remkrag ten einde die minste moontlike wieltol te verseker. Uiteraard word dit alles gedoen om die nuwe Triton die bes moontlike verrigting te gee wanneer daar oor uitdagende terrein genavigeer word.
Met ‘n draaisirkel van 5,9 m, 220 mm-grondvryhoogte, 28º-intreehoek, 23º-vertrekhoek en ‘n oorklim hoek van 25º, is die roete maklik baasgeraak deur die Triton wat besonder goed ontwerp is om juis moeilike roetes aan te pak.

Ons was veral beïndruk met die 2019 Triton se elektroniese “Heuwelaf “-stelsel wat die bestuurder toelaat om te versnel of te rem na gelang van omstandighede sonder dat die stelsel, soos by ander voertuie met ‘n soortgelyke funksie, uitskakel.
Verder sorg die addisionele “Rock”-opsie in 4LLc dat die 2019 Triton bykans enige terrein kan baasraak.
Opsomming
Gegewe Mitsubishi se geskiedenis in Suid-Afrika van taai, robuuste en betroubare Triton- (eers Colt) bakkies is dit moeilik om te glo dat die verkoopsyfers van die Triton plaaslik teleurstel. Die nuwe Triton is myns insiens die beste bakkie tans in SA beskikbaar.

Met ‘n uiters stil kajuit, veel beter paddinamika as die meeste (veel) duurder en meer bekende bakkies in SA beskikbaar en ‘n veldryvermoë wat veelgeroemde veldryers skaam in hul uitlaatgasse sal laat stik, is die nuwe Triton nie net veel mooier as die huidige kompetisie nie, maar ook beduidend ligter op brandstof en op die beursie. As jy my nie glo nie, gaan toetsbestuur een!
Reeks en pryse
• 2019 Triton 2,4L DI-DC Handrat 4×2 – R509 995
• 2019 Triton 2,4L DI-DC Outomaties 4×2 – R529 995
• 2019 Triton 2,4L DI-DC Handrat 4×4 – R569 995
• 2019 Triton 2,4L DI-DC Outomaties 4×4 – R589 995.
Ingesluit by die prys van die 2019 Mitsubishi Triton is Mitsubishi se driejaar/100 000 km-vervaardigerswaarborg, ‘n vyfjaar/90 000 km-diensplan en ‘n vyfjaar/onbeperkte-kilometerpadbystanddiens. Dienste moet elke 10 000 km gedoen word.

ALSO READ: New vehicle sales hit first high in April
