VIDEO: Melinda bekoor met sielsgesprekke
Omtrent 10 jaar gelede het die woordgogga haar gebyt en het sy begin om haar bediening voort te sit deur haar sielsgesprekke op te voer.
MBOMBELA – Vir plaaslike kerke het Melinda van den Berg geen bekendstelling nodig nie. Sy het immers vir amper 15 jaar lank die woord van die Here deur sang in Laeveldse kerke verkondig.
Omtrent 10 jaar gelede het die woordgogga haar egter gebyt en het sy begin om haar bediening voort te sit deur haar sielsgesprekke op te voer. Dié gesprekke is dialoë tussen haar en God wat sy neergepen het.

“Ek het begin skryf toe ek nog gesing het. Na ‘n ongelukkige tydperk in my lewe het ek besluit om dit wat ek begin skryf het, met ander ook te deel,” verduidelik Van den Berg.
LEES OOK: Gerrie Pretorius sing binnekort die Laeveld aan die brand
Die gesprekke gaan oor verskeie onderwerpe soos seisoene van die lewe, geloof en die geboorte van Jesus. Sy het ook onlangs van dit voorgelees toe Sonja Herholdt hier opgetree het.
“Ek was 29 toe ek die eerste maal die Here ontdek het en ek het toe baie spontaan begin skryf. My gesprekke is dan ook so spontaan en ek probeer dit so informeel as moontlik hou.”
Op die ouderdom van 38 gekwalifiseer sy as ‘n kleurterskoolonderwyser. Tans gee sy ekstra klasse vir kinders en in tale ook vir hoërskoolkinders en volwassenes.
Verder is kuns ook een van haar stokperdjies en skilder sy graag “veral malvas”.
Sy beskryf haarself as ‘n bemoediger en ‘n opvoeder en “kan nie die twee van mekaar skei nie”.
LEES OOK: As die Laeveldgriepverkoue jou eers beet het
Van den Berg is ook besig om al haar sielgesprekke in ‘n versameling saam te vat en sy hoop dat dit in die somer van 2019 gereed sal wees vir publikasie.
