Local newsNews

Jan Blohm maak sy terugkeer onder die volmaan

Die musikant en sy band het Vrydagaand inwoners bekoor met ou gunstelinge soos "Groen Trui", "Breyten se brief", "Vicky" en "Ruby".

MBOMBELA – The Pub, een van die dorp se gesellige kuierplekke, het gasheer gespeel vir Blohm en die musikante wat saam met hom musiek gemaak het.

‘n Bonus was Jonathan Peyper wat saam met Blohm op die verhoog was en weer eens gewys het hoe ‘n kitaar gespeel moet word.

Die man op die baskitaar, Ashley Hilton Jacobs, het eweneens sy vernuf op die instrument ten toon gestel, maar ook vir Blohm met agtergrondsang bygestaan.

Hy het ook nie gehuiwer om vir ‘n oomblik bo op ‘n tafel tussen die gehoor te spring nie en was duidelik ‘n gunsteling onder almal wat kom luister het

LEES OOK: Sweefvlieëniers pak moeilikste wedvlug ter wêreld

Blohm het ook heelwat musiek van sy nuwe album, Die Liefde Album, gesing. Hierdie is in 2018 na ‘n stilte van ses jaar bekendgestel.

Liedjies soos “Word Wakker”, “Sondagaand” en “Huis Toe” is ‘n bewys dat Blohm nog nie sy vermoë verloor het om intense, rou en eerlike lirieke te skryf nie.

Die ouderdom van die mense wat Vrydagaand na Blohm en sy rasperstem, sy diepsnydende poëtiese lirieke en meesleurende blues-gebaseerde melodieë kom luister het, is ‘n bewys dat hy al vir 15 jaar lank musiek maak.

Blohm is ook die afgelope jaar of wat besig om homself as ‘n visuele kunstenaar te vestig en van sy besondere kunswerke is Vrydagaand te koop aangebied.

Almal wat die vertoning bygewoon het, is met warm harte huis toe. Jan Blohm is terug!

SIEN OOK: Mustangs bring eersdags die beste van die Wilde Weste

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button