Leon Kluge wen weer goud by Chelsea
Die plaaslik-getoë rebeltuinier, Leon Kluge, het vanjaar, vir die tweede keer, met 'n goue toekenning by die RHS Chelsea Flower Show weggestap.

MBOMBELA – Leon Kluge was, soos verlede jaar, in beheer van die Suid-Afrikaanse uitstalling by wat as die belangrikste skou in die bedryf beskou word.
Vanjaar se tema was “Mountains of abundance”.
Kluge, wat in Mbombela grootgeword het en tans in Kaapstad woon, het weer uit Mpumalanga inspirasie geskep.

SIEN OOK: ‘Rebel gardener’ bags another big win
“Die toekenning is ‘n baie groot eer. Dit is die grootste toekenning,” sê Kluge, wat al tallose ander internasionale pryse ingepalm het.
Hy het telefonies uit Brittanje met die koerant gesels, terwyl hy onderweg was om Prins Charles se privaattuin by Highgrove te besigtig.

So uit die verte vertel Kluge van die installasie. “Ons stel Dullstroom met geel varkore en grasse voor, sowel as proteas.
“Die proteas stel ook die Wes-Kaap voor. Dis alles snyblomme, en jy weet nooit presies wat jy op die dag gaan kry nie, maar ons het vanjaar wonderlike proteas gekry.

“Aan die een kant van die installasie is Tafelberg want dit is ikonies, maar Mpumalanga is altyd êrens in die ontwerp,” voeg hy by.

• Kluge bring vanjaar die installasie Innibos toe. Ter viering van die botaniese tuin se 50ste verjaarsdag sal hy die installasie in Junie hier in die Laeveld kom dupliseer.
Dit begin 22 Junie. Moet dit nie misloop nie.
LUISTER: Is hierdie twee Secret Sound antwoorde dieselfde?
