Meer as 100 Voortrekkers en familielede kamp saam
Die plaaslike Voortrekkerskommando het verlede naweek op die oewer van die Krokodilriver hulle grootste kommandokamp nog, met meer as 100 mense, aangebied.
KOMATIPOORT – Net meer as 100 plaaslike Voortrekkers en familielede het verlede Vrydag hulle tente by RCL Foods se Tenbosch Wildskamp opgeslaan vir hul eerste kommandokamp van die jaar.
Teen Sondagmiddag kon die buffels egter weer rustig daar wei, met geen teken van al die pret wat die groep gehad het nie.
Kamp is ‘n groot deel van die Voortrekkers se tradisie, vertel kommandoleier Maritza Uys en dié kamp was ‘n goeie geleentheid om die jongste lede te leer hoe om te kamp, ‘n paar nuwe vaardighede aan te leer en aan die kommando se eenheid te bou.
LEES: Belgian organisation to expand its educational programme in Komati
Vrydagaand was daar ‘n nagmars, met die tema Jock of the Bushveld en ‘n blinde uitstappie het oor ‘n spruitjie en tussen die bosse deur, met die klanke van roofdiernaggeluide, geskied.
Een van die nagmarsuitdagings het behels dat Voortrekkers voel hoe Jock die wêreld beleef het nadat hy doof geraak het. Almal se ore is bedek en ‘n koedoehoring is geblaas om dit te illustreer.

Die groep en hul ouers het daarna saamgebraai en -kuier.
Die volgende dag is die nuwe offisiere, soos Susan van Dyk, en Voortrekkers tydens die vlaghysingseremonie ingehuldig.
Die geleentheid neem tydens elke kamp ‘n ander vorm aan. Hierdie jaar was dit ‘n fakkelparade en elke Voortrekker moes hul eie fakkel maak.

Die fakkels is skemertyd aangesteek en uitgedoof na gelang van die seremonie.
Saterdagaand is, soos tradisie verlang, langs die kampvuur afgesluit met ‘n konsert. Die groepe het alles tot hulle beskikking gebruik om opvoerings met die tema “Afrikaanse idiome waarin plante ter sprake kom” aan te bied. Daar was hope humor en oulike musiek.
Die naweek se oorkoepelende tema was ABC-respek, na aanleding van die Voortrekker-strewe om jongmense te ontwikkel om te streef na ware burgerskap in ons land met Christelike waardes. Dit kan gedoen word deur respek vir God, mekaar en ons naaste.
LEES: Voortrekkers in Komati gaan van krag tot krag
Daar is Sondagoggend ter afsluiting op ‘n klipplaat in die bosse erediens gehou.
Uys vertel dat die Komatipoort Voortrekker-kommando aanhou groei danksy wonderlike offisiere, sterk kinders en ondersteunende ouers.
Alhoewel hierdie die kommando se eerste tuiskamp van die jaar is, word daar vele “wegkampe” regoor die land aangebied. Van die ouer Voortrekkers gaan juis in die Junie-vakansie Kaap toe vir ‘n gebiedskamp.
Die Komati-kommando sal in die tweede helfte van die jaar weer ‘n kommandokamp aanbied..
Om by die Voortrekkers aan te sluit, kan vir Uys by 082-965-0950 skakel.
