Gehoor lag ‘n slag lekker in hul Moedertaal
Hannes Brummer, Melt Sieberhagen en Alfred Adriaan het vir loslitvertonings met 'n paar stoute grappies gesorg en die gehoor kon vir 'n slag lekker lag.
MBOMBELA – Emnotweni het Saterdagaand in alle erns trotse Afrikaanse komedie aangebied.
Van die land se gunstelingkomediante het in Alle Grappies op ‘n Stokkie hul uiteenlopende persoonlikhede ten toon gestel.
Adriaan het tussen die twee groter name as seremoniemeester opgetree. Sy tong-in-die-kieskomedie reflekteer die alledaagse lewe, soos hoe laaities darem deesdae aantrek.

Sieberhagen, wat onlangs na Kaapstad “ge-semi-greer” het, het die gehoor laat skaterlag in hul moedertaal. “Afrikaans is die jongste en maklikste taal – natuurlik, want selfs Snotkop kan dit praat.”

Hy het ‘n uniek Suid-Afrikaanse uitkyk en het ‘n bietjie liggies met die land se disfunksionele politiek die spot gedryf.
LEES OOK: Blits-Bos-Braai – die aftelling na Innibos 2019 begin
Brummer het veral die snaaksigheid van ouerskap uitgelig.
Die sketse het by tye kru-terrein betree, maar oor die algemeen was dit vermaaklik genoeg.
Die drie is almal by die komende Innibos-fees te sien. Sieberhagen verskyn boonop in ‘n dramatiese rol in Nagskofkliek, wat by die fees debuteer. Hoewel hy beter bekend is as ‘n grapjas, word voorspel dat sy spel teatergangers se asems gaan wegslaan.
Vanaand tree Mark Banks, Stuart Taylor and Eugene Khoza saam by Emnotweni op. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.
SIEN MEER: INNIBOS 2019
