Inwoner deel die Woord met die wêreld
"Dit is my droom dat elke Bybelvertaler eendag soontoe kan gaan. As die land so voor jou lê, dan verstaan jy die Bybel op 'n beter manier."

MBOMBELA – Op amper 40 het Nel Claassen die eerste maal die Here leer ken. Sy vertel hoe sy in 1987 Sy roeping gevolg en by die Africa School of Missions buitekant Witrivier begin studeer het.
“Maar ek het gedink ek was die domste sendeling wat die Here al ooit gestuur het. Ek wou nie ‘n pastoor of ‘n evangelis of selfs ‘n berader wees nie.”
In die tweede jaar van haar studies het alles egter verander toe doktor Veroni Kruger en van sy kollegas van Die Woord vir die Wêreld die skool besoek het, en Claassen van Bybelvertaling te hore gekom het.
Sy het haar teologiese graad by die college voltooi en daarna haar diploma in Bybelvertaling verwerf.
Claassen het verlede week na haar alma mater teruggekeer. Sy het ook gesprekke by die plaaslike Metodiste Kerk gevoer. “Hulle het my nog altyd ondersteun en doen baie voorbidding vir my. Bid is belangriker as geld. As jy die Here se roeping volg, sal Hy altyd voorsien.”
Na die voltooiïng van haar graad en diploma, het sy vir ‘n jaar vertalings in die Comores gedoen. Daarna is sy vir ‘n jaar na Frankryk om Frans te probeer praat. Die meeste van haar tyd het sy egter in Ethiopië en Zambië deurgebring, waar sy nie net die plaaslike kultuur leer ken het nie, maar ook gehelp het om die Woord in hul eie taal vir hulle te bring.
Community helps to raise the roof for orphanage
Sy verduidelik dat hoewel sy nie self die Bybel vertaal nie, leer sy moedertaalvertalers die korrekte beginsels. “Want wie kan beter die taal praat as iemand wat daarmee grootgeword het?”
Volgens haar is hierdie metode baie meer koste- en tydeffektief. “Dit beteken ‘n sendeling hoef nie eens na ‘n bepaalde plek gestuur te word om die taal aan te leer en dan die Bybel te vertaal nie. Dit vat drie jaar om die Nuwe Testament te vertaal en agt jaar vir die hele Bybel.”
Claassen het ook vir al verskeie kere na Israel gereis sodat sy Hebreeus kon aanleer. Sodoende het sy ook ‘n amptelike Ou Testament-konsultant geword.
“Dit is my droom dat elke Bybelvertaler eendag soontoe kan gaan. As die land so voor jou lê, dan verstaan jy die Bybel op ‘n beter manier.”
Bodybuilder puts on a different kind of show
Haar reise regoor die wêreld was egter nie net maanskyn en rose nie. Terwyl Claassen in Zambië met sendingwerk besig was, het sy haar seun aan die dood afgestaan. “So baie van ons het verliese gely terwyl ons besig was met sendingwerk.
Daarom sê ek, as die Here jou nie roep om ‘n sendeling te wees nie, moet jy dit nie doen nie.”
Dié wat belangstel om soortgelyke werk te doen, kan Die Woord vir die Wêreld kontak by twftw.org.
