Musiekteater vir elke smaak by Innibos 2019
Iedere en elk sal by vanjaar se Innibos iets hê om te geniet

Die Sudwala-grotte net buite die stad is vanjaar die konsertsaal vir twee uitstaande musiekproduksies by Innibos.
Kaartjies vir Eggo’s In Die Grotte met onder andere André Schwartz en Demi Lee Moore het egter gevlieg en die laaste een is opgeraap, maar daar is nog kaartjies oor vir CH3 In Die Grotte met Corneille Hutten en Dirkie van Staden van CH2 sowel as Chris Chameleon.

Dié kunstenaars is al drie bekend daarvoor dat hulle dikwels die grense van hul genres toets, sodat gehore altyd iets nuuts te wagte kan wees. Hierdie is ‘n produksie met die vernuftige kitaarspel en musikale vuurwerke van CH2 se fusion-styl met Spaans-Latynse-Afrika-ritmes met ‘n lekker Afrikaanse aanslag.

Musiek en Liriek – 40 Jaar Later vertel die verhaal van dié musiekbeweging wat Afrikaanse musiek op sy kop gedraai het. Anton Goosen, Jannie du Toit en Coenie de Villiers is van die ouer garde wat saam met die jonger Schalk Joubert (onder meer die musiekregie), Mauritz Lotz en Steffie le Roux musiek maak wat sommer heelwat om die lyf het.

Le Roux is ook te sien in Tweespoor saam met Richard van der Westhuizen. Hulle stap in spore wat lei na die mooiste stories soos nét oorvertel kan word deur hierdie twee talentvolle musiekkunstenaars. Dit is ‘n produksie wat spreek van warmte, hartlikheid en eerlikheid, presies waarna ‘n mens se siel soms so verlang.

Die energieke musiekblyspel Buddy – The Buddy Holly Story gaan jou voete laat kielie. Amper ses dekades na sy ontydige dood, maak Buddy Holly se musiek steeds vuur in die harte van aanhangers regoor die wêreld. Dit is heerlike gesinsvermaak met Brendan Peyper as Buddy.

