Nellies maak opslae tydens eerste ronde van ATKV Redenaars
Sestien Nellies het deurgedring na die semifinaal wat op 31 Mei in Middelburg plaasvind.

Hoërskool Nelspruit se redenaars het vanjaar weer eens tydens die ATKV se redenaarskompetisie bewys dat die Nellies kán redeneer. Ses-en-twintig redenaars van NHS het op 11 April by Hoërskool Generaal Hertzog aan die eerste ronde van die redenaars aan ses verskillende kategorieë deelgeneem.
Sestien Nellies het deurgedring na die semifinaal wat op 31 Mei in Middelburg plaasvind. Die volgende sewe juniors het deurgedring na die semifinaal. In die junior voorbereide afdeling het Niandi Coetzee in gr. 8 aangevoer dat Suid-Afrikaners praat die waarheid snaaks – en niemand lag nie.
Katrien Hiemstra in gr. 9 se onderwerp dat Afrika-koninginne van drama se spieëlbeeld breed glimlag, het die toeskouers hardop laat skater van die lag. Anke Oelofse, ook in gr. 9 het aangevoer dat nie alle deure handvatsels benodig nie en Jeanne Strydom, gr. 9, het gesê dat dis nou maar wors, ‘n krisis in die onderwys is op hande!

Agter: Siné Repinga, Jeanne Strydom, Melissa Bezuidenhout, Chanté Hurter, Naomi van der Nest, Anthony Mabuza, Jana Ingwersen, Mia Dentan, Anke Oelofse, Niandi Coetzee
LEES OOK: Braai laat geesdrif vir fees nog hoër opvlam
Twee juniors, Conrad Joubert in gr. 9 en Cornelis van Dyk in gr. 8, het in die onvoorbereide afdeling die gehoor beïndruk met hulle spitsvondige opmerkings oor beurtwater. Nuweling Anthony Mabuza in gr. 9 het in die junior addisionele taal-afdeling beïndruk met sy toespraat dat rugby vir ‘n mens baie deure oopmaak.
Die seniors het ook nie op hulle laat wag nie en Naomi van der Nest in gr. 10 se onderwerp, “moordverhore het ‘n magnetiese aantrekkingskrag,” Melissa Bezuidenhout in gr. 11 se “skinderstories se magnetiese aantrekkingskrag veroorsaak net moeilikheid”, Chanté Hurter (gr. 12) se “‘n goeie navigator hou ‘n wakende oog op die eindpunt gerig” en Dawie van Heerden (gr. 11) se “woorde is ons navigasiestelsel” het hulle sukses gewaarborg in die voorbereide afdeling vir seniors.
LEES OOK: We Care 4 Nelspruit remove illegal election posters
Die gr. 11’s se Mia Dentan, Jana Ingwersen en Ernst Pieterse het hulself laat geld in die senior onvoorbereide afdeling en kon ook suksesvol deurdring na die semifinaal. Amenda Bunting en Siné Repinga, albei in gr. 10, het in die voorbereide afdeling vir addisionele taal hulle besonder goed van hul taak gekwyt deur onderskeidelik te sê dat tieners hulself al slingerend navigeer in die verkeerde rigting en ons toue is besig om los te torring in Suid-Afrika.
Hierdie klompie gladde bekke ding mee met die res van Mpumalanga se redenaars in die semifinaal om na die gesogte finaal van die ATKV Redenaars in Goudini bevorder te word
