Local newsNews

Gemeenskap maak harte oop vir Zelé

Mamma Marne het onlangs aan 'n prettige manier gedink om die nodige geld met behulp van hul vriendekring, die gemeenskap en sosiale media in te samel.

Die Laeveldse gemeenskap het die afgelope tyd weer bewys dat hul harte en beursies oop is waar dit die lot van kinders betref.

Zelé Nel, Dewald en Marne Nel se dogtertjie, is sewe jaar oud en ly aan serebrale verlamming, ‘n toestand wat gekenmerk word deur vertraagde of verswakte spierkoördinasie (spastiese verlamming) en/of ander gestremdhede. Dit word tipies veroorsaak deur ‘n breinbesering voor of tydens geboorte.

Zelé is een van ‘n tweeling en sy en haar boetie Demar het destyds heelwat vroeër as wat verwag is, hul opwagting gemaak.

Zelé kan nog nie loop nie en haar ouers het vroeër vanjaar besluit om die nodige geld in te samel vir ‘n biomeganiese ontwikkelingsmetode-kursus wat haar kan help loop.

Die kursus word in Pretoria aangebied en leer ouers oor die individuele en spesifieke masseringstegnieke om spastisiteit van die spier- en bindweefsel te verminder.

Mamma Marne het onlangs aan ‘n prettige manier gedink om die nodige geld met behulp van hul vriendekring, die gemeenskap en sosiale media in te samel.

Sy het die bioskoop by Casterbridge Lifestyle Centre gehuur en familie en vriende en met behulp van ‘n veldtog op sosiale media uitgenooi om saam te kom fliek.

Selfs vriende wat te ver was om die genoeglike flieksessie by te woon, het wel kaartjies gekoop en vir ander beskikbaar gestel.

Sulke skenkings van nie-Laevelders is toe gebruik om 17 kaartjies aan inwoners van Rustig Ouetehuis en 10 kaartjies aan die Laeveld se Care Buddies te skenk om die geleentheid by te woon.

Die fonds-insameling vir dié spesiale dogtertjie was toe ‘n groot sukses. Ondersteuners is tydens die oggendgeleentheid met heerlike geborgde bederfpryse beloon.

Sabie Valley Coffee het gratis koffie en muffins as deel van die fliekpakket aangebied.

Aangesien almal op daardie stadium nog in ‘n verkiesingsbui was, moes gaste kies watter een van vyf flieks hulle wou kyk. Hampstead het die meeste stemme gekry.

“Ons gesin is baie dankbaar vir almal se ondersteuning en opgewonde om mee te deel dat al die nodige geld om vir die kursus te kan betaal, ingesamel is. Daar is ook genoeg om toerusting wat in die tegniek gebruik word, aan

te koop,” het Marne, Zelé se ma, agterna gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button