Local newsNews

Verkeersligte maak dorp se aansluitings veiliger

Die aansluiting van die Ferreirastraat-dienspad met Pennystraat is weerskante gesluit. Dit is gedoen omdat dit nie net 'n baie gevaarlike aansluiting was nie, maar ook om aan die padveiligheid- en verkeersregulasies te voldoen.

MBOMBELA – So sê Joseph Ngala, woord-voerder van die Mbombela-munisipaliteit.

Hy sê die aanvanlik ontwerp van die dienspad was eintlik ‘n ontwerpflater alhoewel dit in daardie jare aanvaarbaar was.

Wetweging het egter intussen verander om die bou van paralelle paaie soos hierdie, onwettig te maak.

Die verbouings wat by die Pennystraat-aansluiting gedoen word, het nou tot gevolg dat die Ferreirastraat-dienspad uit twee doodloopstrate bestaan, een vanaf Kestelstraat (Elmadre-kruising) en die ander vanaf Joubertstraat.

‘n Verkeerslig is ook by die kruising aangebring.

Ngala sê die munisipaliteit was genoop om aandag aan die kruising te gee omdat daar veral tydens spitstye erge verkeersopeenhopings onstaan het.

Die nuwe verkeersligte sal eersdaags aangeskakel word.

“Omdat motors van beide rigtings van die dienspad, asook Pennystraat, probeer het om by Fereirrastraat aan te sluit, het dit buitegewone frustrasies vir motoriste veroorsaak. Met die hoë volume verkeer wat in Ferreirastraat beweeg, was dit dus moeilik om vanaf die dienspad by die hoofstroomverkeer aan te sluit.”

In die verlede het verkeer gewoonlik van Du Preezstraat regs in Joubertstraat gedraai en dan links in die dienspad tot by die stopstraat by Pennystraat.

Voortaan sal net inwoners van die Ferreirastraat-dienspad, hul gaste en afleweringsvoertuie die pad kan gebruik.

Die verkeersligte wat nou by die Pennystraat-kruising aangebring is, maak die kruising baie veiliger sê Ngala.

Verkeersligte is ook enkele meter verder by Liebenbergstraat se aansluiting met Ferreirastraat aangebring.

Verskeie inwoners van die dienspad het aanvanklik gemor oor die sluiting aangesien hulle nou om die blok moet ry om in Pennystraat te kom.

Van die inwoners is verlig dat die straat stiller sal wees. Foto’s: Enver Wessels

Enkeles met wie Laevelder gesels het, het egter gesê dat hulle eintlik verlig is dat die dienspad nou ‘n doodloop is omdat dit die hoë volume verkeer en lawaai in die dienspad gaan beperk.

Ngala sê die bouwerk aan die kruising sal nog hierdie maand voltooi word en die verkeersligte sal aanvanklik as vierrigting-stopstrate funksioneer.

“Aanvanklik sal beide stelle verkeersligte rooi flikker sodat motoriste daaraan gewoond kan raak om te stop.”
Die verkeersligte sal sowat twee weke later in volle gebruik wees.

Volgens Ngala sal die verkeersligte by Penny- en Liebenbergstraat gesinchroniseer word om te verhoed dat verkeersopeenhopings onstaan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button