Ouetehuis haal uit en wys op hulle jaarlikse basaar
Die plaaslike Generiese Dansorkes het gesorg vir genoeg vermaak om die winterwindjie te verdryf.

MBOMBELA – Die perseel van SAVF Herfsakker was amper onerherkenbaar soos wat ‘n mens Saterdagoggend daar ingestap het.
Die rede hiervoor was natuurlik hul jaarlikse basaar. Dit is een van die tehuis se grootste fondsinsamelingsprojekte van die jaar en hulle het beslis uitgehaal en gewys.
Eers is jy verwelkom deur ‘n wit-olifantstalletjie en daarna het die reuk van pannekoek jou meegevoer.
Die saal is omskep in ‘n doolhof met stalletjies met alles van poeding en tuisgebak tot vleis en speelgoed. Buite is ‘n area in ‘n groentetuin omskep waar vars groente en vrugte te koop aangebied is.

LEES OOK: UPDATE: Cub of leopard that killed toddler, also shot
Die plaaslike Generiese Dansorkes het gesorg vir genoeg vermaak om die winterwindjie te verdryf.
Die tehuis se bestuurder, sr. Ann Swanepoel, het gesê dat hulle baie dankbaar was vir almal wat hulle ondersteun het. “Ons het lekker pannekoek, koffie en selfs koffie met skop om teen die koue te veg.”

LEES OOK: Hairdresser tangled in alleged theft in Mbombela
Oom Pottie Potgieter, een van die tehuis se inwoners, het gesê dat die koeksisters vir hom die heel lekkerste was. Hy het in sy rolstoel reg langs die vetkoekstalletjie gesit en af en toe ook aan ‘n smullekker muffin met konfyt en kaas weggelê.
“Ek sit elke jaar hier, sodat ek al die mense kan dophou,” het hy met ‘n speelse glimlag vertel.
Die tehuis het gesê dat hulle dankbaar was vir elke skenking wat hulle ontvang het om van dié dag ‘n reusesukses te kon maak.
