Local newsNews

Proe, luister en belééf by vanjaar se Innibos

Soete kosverleidings en 'n ietsie om die keel mee nat te maak is op die spyskaart in verskeie Innibos-produksies vanjaar.

Die wyn. Die vrou. Die lied. is een van die fees se topleefstylproduksies en bring ‘n lekker Kaapse geur na die Laeveld. Beyers Truter, Pinotage-meester van Suid-Afrika, gaan vertel van heerlike Beyerskloof-wyne soos Chenin, Pinotage Reserve en Traildust wat almal verbou word op die Beyerskloof-landgoed.

Die vertellings word afgewissel met voordrag van geliefde en bekende gedigte deur Johan Rademan, bekende radiopersoonlikheid, terwyl Christo Snyman van Broers-faam weet hoe om die kitaarsnare te laat sing sodat ‘n mens hoendervleis kry.

Hierdie drie neem jou op ‘n reis wat soms nostalgies en soms lekker lig is, maar altyd ‘n gedagte in die midde laat waaroor ‘n mens kan gaan nadink. En ja, daar gaan ook lekker aan die wyn geproe word!

Vanjaar is daar elke dag ‘n kans om van die heerlikste jenewer te proe by die Kuns-oase in die kultuursentrum van Laerskool Nelspruit. ClemenGold-jenewer is bekend vir sy sonrypgeur met ClemenGold se sagte sitrus daarin en ‘n kenner gaan jou wys hoe dié drankie verder opgekikker kan word. Dit is ‘n interaktiewe proe-geleentheid, met musiek deur die Laeveldse kunstenaars Natascha C en Henry-John Williams. Natascha C sing buiten haar eie lirieke ook dié van onder andere Herman van Veenen en Edith Piaf, met Williams as begeleier.

Jak de Priester verruil sy Sally Williams-nougat vir die soet verleiding van sjokolade in ‘n sensoriese produksie saam met Lizz Meiring. Die Sjokoladeshow is ‘n liplekkerfees waar sjokoladebedekte verleiding, liefde, wraak, verslawing, moord en komedie aan die gehoor voorgesit sal word. Kom span al jou sintuie in: proe, luister en belééf!

‘n Koek is ‘n koek is ‘n koek… of is dit so eenvouding? Uit die pen van Braam van der Vyver is daar Koekeloer!, ‘n splinternuwe, eg Suid-Afrikaanse klug.

Dit speel af in ‘n woonstel in Stellenbosch tydens die finale ronde van die Koekedoor-kompetisie. Die twee finaliste, ‘n oujongnooi van Koekenaap en ‘n lingeriemodel van Ruimsig, moet sake in die finaal uitspook en mekaar uitoorlê met hulle vernuftige (en by tye agterbakse) bak-en-brou-planne.

Wie gaan die wenner van die kompetisie wees? Wie gaan kop verloor en watter jakkals gaan van kle(u)re verander?

Wie nie koekeloer nie, gaan niks sien nie!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button