Local newsNews

R.I.V my geliefde Spek

Begrafnisreëlings sal volg.

Gister het my wêreld in duie gestort.

So lê ek gisteraand, doodonskuldig in by bed deur Facebook en blaai en daar slaan dit my vierkantig in die gesig.

“Die prys van spek skiet die hoogte in.”

Dit kan nie waar wees, dit mag nie die einde wees nie, dink ek dadelik. ‘n Nuusbron bevestig egter die nare realiteit en, weens finansiële redes, besef ek dis die einde van ‘n era.

Spek is weg – vir altyd.

LEES OOK: As die Laeveldgriepverkoue jou eers beet het

Hiermee dan my huldeblyk aan ons lewe saam:

My intieme verhouding met Spek het begin toe ek maar net ‘n klein dogtertjie was.

Dit was beslis nie liefde met die eerste oogopslag nie. Spek het maar bleek gelyk. Maar met ons eerste aandete het dinge warm geraak en die vonke het begin spat.

Spek het verbruin, soveel so dat ek skaam gekry het oor my vaal gelaat.

Maar Spek het nie omgegee nie. Spek vra nie vrae nie. Spek verstaan.

In my tienerjare het Spek my deur elke wiskundetoets en mislukte verhouding bygestaan.

Spek was nie, soos ander vriende, net daar vir ‘n aand uit nie. Spek was daar vir elke ontbyt, elke broodjie wat ek pouse alleen moes eet en elke pasta waar ek bietjie ekstra nodig gehad het.

Weens ‘n ongemaklike doktorsafspraak oor my cholesterol, het my en Spek se paadjies bietjie gekruis toe ek op universiteit was.

Maar die skeiding was net tydelik en hy het altyd weer sy weg na my lewe teruggevind.

Rus in vrede, my geliefde vriend, ek sal jou nooit vergeet nie.

LEES OOK: Die dag toe sir my kar se spieëltjie vir hom vat

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button