Dramas met heelwat lyf op die planke
Tussen al die lekker ligte vermaak tydens Innibos, wat van 26 tot 29 Junie op die feesterrein by Hoërskool Bergvlam gehou word, is dit soms goed om die tande as't ware in te slaan in 'n toneelstuk wat 'n spieël ophou na die lewe en ons so 'n bietjie laat nadink.

MBOMBELA – Tussen al die lekker ligte vermaak tydens Innibos, wat van 26 tot 29 Junie op die feesterrein by Hoërskool Bergvlam gehou word, is dit soms goed om die tande as’t ware in te slaan in ‘n toneelstuk wat ‘n spieël ophou na die lewe en ons so ‘n bietjie laat nadink.
Sandra Prinsloo en Louw Venter is in die rolverdeling in die drama My Seuns wat sesmalig bekroon is by Aardklop, onder meer vir beste regisseur (Christo Davids), teks en produksie. Dit is ‘n eg Suid-Afrikaanse familiedrama wat afspeel tydens Ouma (Sandra) se verjaardagpartytjie, waar dit duidelik word dat almal nie langs dieselfde familievuur sit nie.

Ook in Katvoet kom familiedrama onder die vergrootglas in dié verwerking van Tennessee Williams se Cat on a Hot Tin Roof. Pleks van in ‘n plantasie in die Amerikas, speel die drama af op ‘n bosveldplaas.
Marius Weyers en Tinarie van Wyk-Loots is onder andere op die verhoog. Ernstige dramatiese oomblikke word afgewissel met komiese spel. Al die vertonings tydens die Woordfees en KKNK vanjaar was uitverkoop.

Frank Opperman en Dana Snyman sorg met Donkie weer vir ‘n verhoogstuk oor ‘n doodgewone mens – dié keer ‘n skoolhoof – wat jou met ander oë na alledaagse situasies sal laat kyk. Frank is mnr. Swart, die beleërde hoof wie se bynaam Donkie is. Een Maandagoggend tydens saalopening besluit hy om keel skoon te maak oor alles van dissipline en die gebrek daaraan, tot die beheerliggaam wat hom gas gee.

Daar is geen groter hartseer as ‘n kind se dood nie, maar tog kan ‘n mens niks anders doen as om daardeur te gaan nie. Akteurspaar Ira Blankenberg en Waldemar Schultz het hul seun, Kieran, ses jaar gelede in ‘n fratsongeluk aan die dood afgestaan, en in die drama Haal Asem neem Blankenberg die gehoor op haar rou reis daarna. Dit is ‘n dapper verhaal van besinning en moed en bly ‘n mens lank by.

Beplan jy ‘n lekker lang dag op die Innibos-feesterrein? Parkeerkaartjies is te koop teen R100 per dag waarmee jy op die gronde by Hoërskool Bergvlam mag parkeer. Slegs kontant, en te koop by die Innibos-kantoor in Sonpark.
