Local newsNews

Kalender werk na 5 000 jaar nog kliphard

Oor die bekoorlikheid en betowering van Kaapsehoop word nie veel gedebatteer nie.

KAAPSEHOOP – Oor die bekoorlikheid en betowering van Kaapsehoop word nie veel gedebatteer nie.

Die dorpie wat bo-op die platorand van die Drakensberge geleë is, is veral bekend vir die vrylopende perde, die aalwyne wat hierdie tyd van die jaar die klipbanke in die omgewing baldadig in rooi tooi, en die uitsonderlike voëllewe.

 

 

Dit is egter beslis nie al wat aan die dorpie sy unieke bekoring gee nie. Kaapsehoop se geskiedenis is ryk en al was die rykdom van die goudvonds in die omgewing van korte duur, lê ontelbare interessante stories tussen die klippe begrawe.

Dis hoeka ‘n sirkel van klippe, sowat sewe kilometer vanaf Kaapsehoop, wat die verbeelding al hoe meer aangryp.

Johan Heine, uitvoerende direkteur van Kishugu, het in 2003 bo-oor die gebied gevlieg as deel van die reddingspoging om ‘n vlieënier, wie se vliegtuig daar geval het, te hulp te snel.

LEES OOK:Oud-Laevelder palm eerste plek in by Kona Yesterman in Hawaii

Die spesifieke verspreiding van die monoliete het hom dadelik opgeval en daar en dan het sy navorsing begin. Dit was gou duidelik dat die klippe heel waarskynlik ‘n klipkalender is wat duisende jare gelede gebruik is om die draai van die seisoene, en die stand van die son, aan te dui.
Die foto’s wat Heine vanjaar geneem het tydens sonsopkoms en sonsondergang op 20 Maart, die dag-en-nagewening, plaas die son met sy opkoms presies oor die een groot monoliet en met die sonsondergang perfek tussen twee ander groot klippe aan die westekant. Wie ook al die klippe daar geplaas het, wou doodseker maak wanneer die seisoen draai.

Vir Heine is dit ‘n jammerte dat daar soveel fabels rondom die klipkalender geweef word. Stories van sommige klippe op die terrein wat gedien het as ‘n altaar en ander bewerings het baie mense skepties oor die klipkalender gemaak. Hy is egter van plan om al hierdie valse teorieë te weerlê in ‘n boek waarmee hy besig is.

 

 

Dit sal propvol feite wees wat met die nodige foto’s as stawing gedokumenteer gaan word. Die boek behoort teen volgende jaar hierdie tyd op die rakke te wees.

“Ek het die afgelope jaar maandeliks foto’s gaan neem waarmee ek ongetwyfeld kan bewys dat dit as ‘n sonkalender gedien het. My teorie is dat die klipkalender opgerig is deur mense wat ongeveer 5 000 jaar gelede goud hier gemyn het.
“In die Bybel lees ons dat Salomo in daardie tyd jaarliks 666 talente goud ontvang het. Dit is nagenoeg 23 metrieke ton goud. Ek glo dat van daardie goud moontlik in hierdie area uitgehaal, en dan met die vloot skepe waarvan ons ook lees, langs Oos-Afrika se kus kom haal is.

LEES OOK:Hannes keer na 25 jaar terug na die verhoog
“Die mense wat die goud verkoop of verruil het, moes weet wanneer dit veilig was om na die kus te gaan, aangesien malaria en tsetsevlieë dit in die somermaande onmoontlik gemaak het. Ek glo die sonkalender het hulle vertel wanneer dit veilig was en wanneer handelskepe met die trade winds sou arriveer,” sê hy.

Met die volmaan in Mei het ‘n groep entoesiaste saam met Heine die klipkalender besoek om die volmaan se opkoms waar te neem. Die Sondagoggend, 19 Mei is daar teruggekeer na die terrein om te sien waar die maan ondergaan.

Johan was geweldig opgewonde om te sien dat die presiese plek ook in lyn is met van die kleiner klippe wat ‘n perfekte lyn na die westekant vorm. Alhoewel dit te vroeg is om honderd persent seker te wees, lyk dit dus ook asof hierdie nie net ‘n sonkalender is nie, maar ook ‘n maankalender.

 

 

“Ek het lankal vermoed dat dit ook as maankalender gedien het, maar met die laaste twee volmane kon ek dit sonder twyfel bewys. Nou wag ek geduldig vir die volgende paar volmane om die spesifieke patrone te bepaal,” sê hy.

Die Kaapsehoop-klipkalender lê op die Blouswaelvlakte, ‘n bewaringsgebied suid van Kaapsehoop en toegang is beperk tot diegene met die nodige permitte.

Heine se droom is dat hy eendag daarin sal slaag om hierdie besonderse plek so goed as moontlik te herstel en dan as ‘n wêreldklas-toeristebestemming te vestig waar gidse en ‘n professionele handleiding die kalender vir die publiek sal verduidelik.

Tot dan gaan hy getrou voort om elke volmaan en met die vier dag-en-nageweninge in die kalenderjaar, hierdie mistieke plek te besoek. As die klippe maar net kon praat.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bridget Mpande

Bridget Mpande is the editor assistant for Mpumalanga News and Lowvelder Express. She joined Lowveld Media in 2014 and covers several beats in the newsroom. She is a mentor and believes there is no community newspaper without the community.
Back to top button