Local newsNews

KYK: Damien Minnie-Parkes se operasie ‘n sukses

Hy is op 24 Mei geopereer.

MBOMBELA – Klein Damien Minnie-Parkes se ogies is wild en wakker. As hy jou die eerste maal sien, steek hy sy kop eers skaam agter ma Berenice Parkes se skouer weg.

“Gee vyf, my liefie,” moedig Parkes aan. Met ‘n giggel steek hy dan gehoorsaam sy hand uit en as die woelwater se ogies joune eers vang, is dit genoeg om enige harde hart te laat vermurwe.

“Hy is Jesus se oogappel,” sê pa Markus Minnie trots.

Damien Minnie-Parkes kort voor sy operasie.

Dit is eers later wanneer die 17 maande oue peuter op die grond begin rondkruip dat jy die letsel op sy kop sien.

Damien is op 24 Mei by die Netcare Sunninghill Hospitaal in Johannesburg geopereer nadat hy op sewe maande met metopiese kraniostenose-trigonosefalie gediagnoseer is. Dit is ‘n aangebore toestand van voortydige samesmelting van die metopiese nate (voorkop), wat lei tot ‘n driehoekvormige voorkop. Dit het beteken dat Damien se skedelbeen met ‘n punt na voor getrek was, wat risiko’s vir die ontwikkeling van sy brein inhou.

In die hospitaal.

Die vyf uur lange operasie het egter alles verander.

LEES OOK: Nog fondse benodig vir Damien se breinoperasie

“Die voorste gedeelte van sy skedel is verwyder. Daarna is been vanuit die agterste gedeelte van sy skedel geneem om die voorste deel toe te maak en die verwyderde been is gebruik om die skedel te heg,” verduidelik Minnie.

“Ons was natuurlik baie bekommerd, maar ons het vertrou dat die dokters weet wat hulle doen,” verduidelik Parkes.

Damien en sy ouers na die operasie.

Gedurende die operasie het Damien 120 milliliter bloed verloor en moes hy bloedoortappings kry. “Na die operasie het ek hom nie eers herken nie,” lag Minnie.
Hy is minder as ‘n week later uit die hospitaal ontslaan en sy ouers was in die wolke.

‘n Paar maande gelede het die paartjie weens finansiële beperkings nooit gedink rekonstruktiewe chirurgie van dié aard sal moontlik wees nie.

Hulle het met fondsinsamelings begin, “maar dié sou te lank vat omdat hy dringend die operasie moes ondergaan”.

Na die operasie.

Parkes het deur Facebook mense ontmoet wat haar na die Smile-stigting gelei het. Hulle het haar met Damien se dokter, ‘n plastiese chirurg, in aanraking gebring.

Die dokter het die paartjie en Damien aan die Netcare-stigting bekendgestel en kort voor lank is hul aansoek goedgekeur. “Die geld wat ons met die fondsinsamelings gemaak het, het gehelp dat ons by hom kon wees terwyl hy geopereer is.

LEES OOK: FOTO’S EN VIDEOS: Sarkoom kry dapper Sean nie onder nie

Ons is so dankbaar vir al die ondersteuning wat ons ontvang het,” vertel hulle asof uit een mond.

Damien en sy ouers kort na die operasie.

Op 20 September moet Damien terug gaan vir ‘n opvolgafspraak. Daarna moet hy vir ‘n operasie gaan om die optiese senuwee te herstel wat met die trigonosefalie aangetas is.

“Vir nou is ons tog so bly om ons seuntjie terug te hê.”

Sy ma het die volgende video kort na sy operasie op die Facebook-blad, Please Help Little Damien, geplaas.

https://www.facebook.com/Pleasehelplittledamien/videos/451000492300817/

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button