Santel van Zyl se hart selfs groter na Pfp
Deur die program het sy betrokke geraak by Cophetsheni Primary School in Ngodini waar sy saam met skoolhoof, Mduduzi Mogane gewerk het.
MBOMBELA – Leef deur God en leer by mekaar. Dit is die grootste les wat Santel van Zyl na haar voltooiing van die Partners for Possibility-program (PfP) geleer het.
Dit het ook haar nuwe lewensfilosofie geword en met haar borrelende persoonlikheid en omgeehart, poog sy om ‘n positiewe invloed te hê op elke mens wat sy ontmoet. Deur die program het sy betrokke geraak by Cophetsheni Primary School in Ngodini waar sy saam met skoolhoof, Mduduzi Mogane gewerk het.
“Ek en Mdu het soos broer en suster geword. Ons deel dieselfde visie om nie net die skool ‘n beter en veiliger omgewing te maak nie, maar ook om dit ‘n veilige hawe vir die hele gemeenskap te maak,”
vertel Van Zyl.

Van Zyl het ses jaar gelede na die Laeveld verhuis waar sy as finansiële adviseur vir Old Mutual begin werk het. Dié maatskappy het ook haar toelating tot die program betaal en verlede April het haar en die skool se paadjies die eerste keer gekruis.
ALSO READ: Partners for Possibility en sakelui ‘n oplossing vir SA se opvoedingskrisis
“Toe ek die skool vir die eerste keer sien, was daar nie behoorlike infrastruktuur nie en die gemeenskap het water by die skool kom steel omdat dit die enigste bron van lopende water is.”
Hier het sy selfs meer respek vir Mogane gekry. “Hy het ‘n Jojo-tenk buite opgerig en die gemeenskap geleer dat hulle nie hoef te steel nie.” Saam het sy en Mogane die veiligheid en die infrastruktuur van die skool opgeknap deur paaie tussen die klasse te bou en ‘n nuwe heining op te rig.
“Daar is leerders wat van rolstoele gebruik maak en dit was vir hulle baie moeilik om tussen klasse te beweeg of selfs om na die badkamer toe te gaan. Ons hoop dat hierdie veranderinge hulle meer mobiel sal maak.”

Van Zyl is sedert Oktober verlede jaar Assupol se ontwikkelingsbestuurder vir Mpumalanga en Limpopo en is tans ook besig om haar graad in forensiese sielkunde deur Unisa te voltooi.
ALSO READ: Wheels are rolling for the Partners for Possibility
In haar vrye tyd geniet sy en haar lewensmaat van die afgelope vier jaar, Adrie van der Linde, die buitelewe. Sy is ook ‘n vuurdanser en geen uitdaging is vir haar te groot nie.
