Potjies vol kos vir potte vol geld
Gesogte items soos 'n jagpakket, Nguni-vel en kunswerke word op 'n veiling aangebied.

Die Fathers Ground-beweging van Laerskool Witrivier bied weer op 20 Julie hul gewilde Wildsfees aan.
Hulle nooi nou al die hele gemeenskap om die geleentheid, wat om 16:00 by Witrivier Rugbyklub gehou sal word, te ondersteun.
Daar is bomas vir 20 gaste beskikbaar teen R3 000 en vir 10 gaste teen R2 000.
Die lede van elke boma sal hulle eie kos in ‘n potjie voorberei, maar kan kies of hulle dit op ‘n houtvuur of ‘n houtskoolvuur of met behulp van gas wil doen.
Die bomas sal voorsien word met stoele, twee tafels, hout, en wildsvleis (5 kg vir 20 gaste en 2,5 kg vir 10). Stampmielies en rys sal by ‘n gemeenskaplike opskeppunt beskikbaar wees.
Die organiseerders wys daarop dat geen kragpunte beskikbaar gaan wees nie, net basiese oorhoofse beligting.
Deelnemers moet dus self ‘n driepootpot, alle eetgerei vir hul gaste, alle ander bestanddele vir die potjie, versierings en tafeldoeke, ekstra houtskool of gas, na gelang van behoefte en eie alternatiewe beligting voorsien.
Gaste sal by die ingang tot die terrein met meer eksotiese disse – smaakvol voorberei en aangebied – verwelkom word, waarna hulle by die onderskeie bomas kan aansluit om die aand terdeë te geniet.
‘n Heerlike nagereg sal ook later die aand bedien word.
Die beste boma sal vanjaar beoordeel word aan die dekor, algemene atmosfeer en gaste se belewenis daarvan, die potjie self, aktiwiteite en ‘n toets-jou-wildkennisvraelys.
Verder sal gesogte items soos ‘n jagpakket, Nguni-vel en kunswerke word op ‘n veiling aangebied.
Hulle bied ook vanjaar ‘n geleentheid aan uitstallers om ‘n stalletjie daar te bedryf. Dit kos R500.
Navrae: admin@fathersground.co.za.
