Local newsNews

Daguitstappie ruk handuit

Manne deel nie geheime nie. Hulle praat ook nie sommer hartsake nie. Behalwe natuurlik as jy deur onverwagse omstandighede gedwing word om dit te doen! En die gevolg?

Manne deel nie geheime nie. Hulle praat ook nie sommer hartsake nie. Behalwe natuurlik as jy deur onverwagse omstandighede gedwing word om dit te doen! En die gevolg?

Skreeusnaakse gebeurtenisse saam met so ‘n bietjie heimweë van die jong dae.

Dit is wat besoekers aan Innibos-fees dié jaar kan beleef met die komedie, Road Trip, met Waldemar Schultz en Brendon Daniels.

Schultz (wat onder meer bekend is vir sy rolle as Jan-Hendrik Terreblanche in 7de Laan en as kol. Piet van der Bijl in die reeks Die Byl) en Daniels (wat onlangs te sien was as die skollie, Ricky, in Sara se Geheim) span in Road Trip saam om die verhaal te vertel van Jaco en Belarus wat van Kaapstad na Johannesburg reis.

“Ons is twee ou skool pelle wat Gauteng toe gaan om vir my ‘n kar te gaan koop. Maar soos dit met enige goeie maters gaan, wat op gevorderde ouderdom weer jongman wil speel, loop alles verkeerd,” vertel Schultz die naweek aan Laevelder.

LEES OOK:Is jy braaf genoeg vir Nagskofkliek?
Ten spyte daarvan dat hy een van die mees gesoute en hoogsaangeskrewe akteurs in die land is, maak hy tog die gordyntjie van sy persoonlike lewe oop in die onderhoud.

“Jy sal dit nie glo nie, maar ek is voor enige show blerrie senuweeagtig. Dit is vir my altyd ‘n emosionele ervaring, Jy staan voor ‘n gehoor en ryg jouself uit voor hulle.

“En jy weet nie regtig hoe hulle gaan reageer nie. Dit klink dalk soos ‘n cliché, maar ek put regtig krag uit die mense se reaksie.”

Hy sê hy en Daniels het al verskeie keer in die verlede saamgewerk, maar in dié show is dit net eenvoudig asof hulle “gejel” het in die rolle.

Oor sy dae in 7de Laan het hy gemengde gevoelens. Hy het nege jaar lank in die sepie as ‘n winkeleienaar gespeel.

“Dit was ‘n ongelooflike leerskool, maar ek dink ek was net so drie jaar te lank daarby betrokke,” sê hy.
Dit was vir hom asof hy in ‘n groef verval het, maar weens werksomstandighede van sy vrou, die regisseur Ira Blankenberg, het hy besluit om nog drie jaar vas te byt.

LEES OOK:KYK: ‘Non met vakansie’-toneelstuk kan nie misgeloop word nie
“Die grootste onsekerheid om 7de Laan te verlaat, was om ‘n vaste maandelikse salaris op te gee vir vryskutwerk!”
Een ding waaroor hy effe spyt is, is dat hy nooit diensplig gedoen het nie. Hy is in 1970 gebore en teen die tyd dat hy klaar studeer het, was die 27 jaar lange bosoorlog op die punt om gestaak te word.
“Ek het toe besluit om eerder my M-graad te doen omdat dit bekend geraak het dat verpligte diensplig afgeskaf sou word.

“In retrospek is ek eintlik spyt ek het nie diensplig gedoen nie. Daai dissipline sou gesorg het at ek vroeër standvastigheid in my lewe gehad het,” vertel hy.

Schultz en sy vrou, Blakenberg is tydens Innibos ook betrokke by die Boeke-crawl in Kaapsehoop waar hulle liefdesgedigte gaan voordra.

Road Trip word by St Peter’s-skool aangebied op Woensdag om 19:00, Vrydag om 19:00 en Saterdag om 10:00. Kaartjies kos R142 en die vertoning is 70 minute lank.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bridget Mpande

Bridget Mpande is the editor assistant for Mpumalanga News and Lowvelder Express. She joined Lowveld Media in 2014 and covers several beats in the newsroom. She is a mentor and believes there is no community newspaper without the community.
Back to top button