Sombere tyd met verlies van gewilde figuur
Carolyn sê haar berusting lê in die feit dat Marius met sy dood besig was met die dinge wat vir hom belangrik en lekker was.
MBOMBELA – Hy laat ‘n groot leemte in die Laeveld, as mens, as vriend en as uiters bewame waterdeskundige. So sê Mbombela se munisipale bestuurder, Neil Diamand oor die skielike dood van Marius van Aardt, besturende direkteur van Silulumanzi. Marius was saam met sy familie by Kenton-on-Sea waar hulle ‘n strandhuis het.
Hy het vroeg Vrydagoggend skielik gesukkel met asemhaling, waarna sy vrou Carolyn hom na die hospitaal op Port Alfred geneem het. Hy is kort daarna dood. Carolyn en hulle drie kinders, André, Julia en Neil het gister na Mbombela teruggekeer. Haar swaer het ook saam met hulle teruggery.
Carolyn sê haar berusting lê in die feit dat Marius met sy dood besig was met die dinge wat vir hom belangrik en lekker was. Die gesin het pas in Kenton aangekom na ‘n landsreis op besoek aan die slagvelde van Natal, ‘n paar dae in die Drakensberge en toe deur die ou Transkeigebied tot by hulle huis op die kus tussen Oos-Londen en Port Elizabeth.

LEES OOK: Behandeling in Indië bring hoop vir klein Mienke
Marius en Carolyn is 17 jaar gelede getroud nadat sy hom tydens ‘n werksonderhoud ontmoet het en hulle daarna ook kollegas was. In sy vryetyd was hy onder meer besig met die navorsing en skryf van ‘n manuskrip oor die Bosoorlog. Hy het ook ‘n lewendige belangstelling in en kennis van die die Anglo-Boereoorlog gehad en gereeld meegedoen aan uitstappies en veldnavorsing op plekke in die omgewing.
Hy sou komende Maandag sy sestigste verjaarsdag vier. Marius het buite Pretoria grootgeword waar sy pa onder meer met bye geboer het. Hy het in 1977 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool gematrikuleer. Hy het sy pa altyd onthou as ‘n praktiese, handige man wat hom gewys het hoe om dinge te maak en reg te maak.
Dit het ‘n voorliefde vir die ingenieursberoep by hom gewek en in 1988 het hy sy graad as siviele ingenieur op UP verwerf. Hy het eers by die nasionale paaiedepertement gewerk en daarna as ‘n munisipale water- en rioleringsingenieur. Daarna het hy by die private sektor aangesluit en in Suid-Afrika, Engeland en Indonesië gewerk. Hy het ook opdragte in Belize in SentraalAmerika uitgevoer en was betrokke by sakeontwikkelingsprojekte in OosEuropa en China.

LEES OOK: Groot geeste help afrig by krietweek
Hy het 11 jaar gelede na Nelspruit gekom as die hoof van Siluumanzi, nadat hy ‘n paar jaar vroeër ook kortliks hier was. Gehaltetyd was met sy familie en saam het hulle die Laeveld geniet. Hy het op ‘n keer gesê die vele reise en verblywe oorsee het hom nou tuisgebonde gemaak. Hy was lief vir tuinmaak. Ook in die Krugerwildtuin het hy graag die afgeleë dele van die streek verken. Hy was lief vir die geskiedenis en het gereeld deelgeneem aan historiese uitstappies.
Hy is ook dikwels gesien by Laevelder se boekbekendstellings, Pen in my Hand, waar hy veral genot geput het uit die bespreking van geskiedenisboeke. Persoonlik het ek Marius as ‘n aangename en gesellige tafelgenoot ervaar. ‘n Man sonder enige vertoon. Hy het ‘n wye kennis gehad en ons het ons voorliefde vir die geskiedenis gedeel.
Omdat ons saam op skool was, ofskoon ek ‘n jaar voor hom, het ons baie gemeenskaplike vriende en kennisse gehad. Hy was ook ‘n uitstekende verteller en het almal se aandag gehad toe hy op ‘n keer vertel het dat sy tweede kind in Singapoer te vroeg, op ‘n veerboot op pad na die kraaminrigting, gebore is.

LEES OOK: NEWS JUST IN: Silulumanzi MD dies
Marius was midde in belangrike sleutelprojekte ter verbetering van watervoorsiening in Mbombela en sy kundigheid en gepaardgaande beplanning gaan gemis word, het Diamond gesê. In ‘n verklaring het hy die verlies met Marius se dood asook simpatie met die familie uitgespreek.
Silulumanzi se finansiële direkteur, Hennie Joubert is intussen aangestel as waarnemende besturende direkteur. ‘n Gedenkdiens sal Saterdag om 14:30 by die NG Moedergemeente gehou word.
