Vanjaar se Innibos vat vlam en jy is genooi
Die amptelike opening van die fees vind môreoggend plaas.
MBOMBELA – Al word daar koeler weer voorspel vir die week, gaan die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees seker maak dat die héle dorp vuurwarm bly.
“Die feesprogram is vanjaar tjokkeblok vol alles wat lekker is,” vertel Innibos se media- en bemarkingsbestuurder, Sandra Jacobs, opgewonde.
LEES OOK: Is jy braaf genoeg vir Nagskofkliek?
“‘n Feesterrein met wonderlike kos, musiek en vermaak, toneelproduksies te kus en te keur, ongelooflike kunsaanbiedings, crawls en nog meer. My feesvlam brand reeds hoog en ek is opgewonde oor die debute by die fees en om die hele land se gaste hier in die Laeveld te verwelkom.”
‘n Baie spesiale toevoeging tot vanjaar se fees, is die mini-uitstalling van die Chelsea Blommeskou wat Saterdag geopen het.
Dié uitstalling word vanjaar vir die eerste keer in die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin aangebied en val ook saam met die 50ste verjaarsdagvieringe van die tuin.
Dié uitstalling, die breinbaba van plaaslike boorling en landskapargitek Leon Kluge, het onlangs goud by die Chelsea Blommeskou in Londen gewen.
LEES OOK: Gallery: National Craft Awards 2019 opening
Kluge is reeds baie gereken in sy veld, en hy het onlangs ook die hoogste eerbetoning van die Suid-Afrikaanse Landskapinstituut ontvang vir sy bydrae tot dié bedryf. Die uitstalling is tot 30 Junie in die tuin te sien.

Dit is egter net een van die opsies van die massiewe variëteit kuns wat die fees bied.
Sondagaand het plaaslike inwoners die geleentheid gehad om hul hande en oë op van die land se beste handewerke te lê toe die wenners van die Innibos Nasionale Handwerkkompetisie aangekondig is.

Gisteraand was ook die amptelike opening van die Walk Tall: The Right to Hope-uitstalling by die Mpumalanga Wetgewer onder die kuratorskap van John Anthony Boerma.
“Ons het vir 15 verskillende kerwers gevra om 15 verskillende kameelperde te maak. Dié kameelperde is toe deur 15 kunstenaars van Mpumalanga versier. Die doel is om ‘n boodskap van hoop vir ons land se mense te bring,” het Jacobs verduidelik.

Die uitstalling sal vir die res van die fees by die kunsoase by Laerskool Nelspruit te sien wees. Dít alles voor die fees nog amptelik afgeskop het. Dit vind môreoggend met die jaarlikse kuns-in-bewegingparade in die strate van die stad plaas. Die parade begin om 10:00 by Canary Walk Mall, en volgens die fees is die beste besigtigingsplek by die Sonpark Sentrum in Piet Retiefstraat.
