Intriges bring lag met ’n traan
Be(t)roudag deur Retief Scholtz en Etienne Fourie. Konsep: Adriaan van As en Francois Jacobs. Met: Nicola Hanekom, Chris van Niekerk, Pulane Sekepe, Wilhelm van der Walt, Amalea Uys, Adriaan van As. Regie: André Odendaal

Soms vergeet ons dit te maklik: teater of toneel is in die regte hande ‘n potensieel lewensveranderende medium wat grensloos die doelpale kan verskuif en op die beste van tye vir teatergangers kraakvars ervarings kan waarborg, soos wat die Innibos-opdragstuk Bet(t)roudag doen.

Dit is maar eers in relatief onlangse tye dat die beskrywing “plekspesifieke” teater ‘n begrip geword het. Dit vind in die reël in die buitelug plaas, maar in sommige gevalle ook binne-in huise of ruimtes, met ‘n gehoor wat dikwels te voet die aksie bly volg waar dit ook al mag plaasvind.

Die debuut van Retief Scholtz en Etienne Fourie se stuk in ‘n waarlik bykans sprokiesagtige Nelspruitse venue, Christie’s at 32 on Russell, plaas die toeskouers in ‘n magiese omgewing: die totale antitese van ‘n skoolsaal met ‘n proscenium, vergeelde sportfoto’s, of presteerders op baie gebiede wie se name in vergulde letters op houtpanele aangebring is.

Troues is ‘n tema wat hom leen tot die mees absurde intriges en selfs kettingreaksies wat onstuitbaar daaruit kan vloei. Adriaan van As en Francois Jacobs se konsep is basies reeds al skerpsinnig genoeg om die deursneetroue te satiriseer. Maar dit val of staan by die skerpsinnigheid van die intrige en veral die dialoog. Die gebeure rondom Be(t)roudag is slegs sporadies so ietwat soos ‘n verlepte sepie.

Met ‘n rolverdeling wat uit akteurs bestaan wie se loopbane in sekere gevalle oor dekades heen behoorlik geslyp is, asook ‘n jonger geslag wat borrel van talent, word kykers gewaarborg dat hulle ‘n weergalose pretontploffing van bykans twee uur sal ervaar.

Die gehoor word deur ‘n kleurkode in twee groepe verdeel wat dan op reis gaan deur die lowerbedekte hoekies en grasperke van Christie’s se tuin, maar ook op die stoepe, by ‘n klein kapelletjie en ander plekke wat die groep waarvan ek nie deel was nie, besoek het.

Die bymekaarkomplek van die gehoor is rondom ‘n groot swembad met ‘n brug daaroorheen. Die stuk begin en eindig daar, maar die reis wat die gehoor aflê om al die familie-intriges te volg, plaas hulle in die rolle van loerders en veral afluisteraars.

André Odendaal het as regisseur wonders verrig binne ‘n omgewing wat enorme uitdagings aan hom moes gestel het. Slegs al die bewegingsplanne in elkeen van die wydverspreide hoekies van die terrein het al alles van hom vereis – om nie eens van die meer omvattende choreografie van die stuk te praat nie.

Dit was egter ook sy fokus op elke karakter se spesifieke rol wat volronde karakterisering plus opvallende tydsberekening in die onstuitbare komiese gedrewenheid wat die stuk vereis, betref, dat Odendaal homself op ‘n meesterlike wyse oortref het. Ook aan die soms bykans verwoede pas wat die meeste tonele vereis, word skitterend voldoen.

Die teksskrywersduo was nie bang om die woordeskat te gebruik wat by ‘n siniese, donker, soms selfs groteske komedie pas nie, terwyl selfs iets soos voorafskaduwing by die ontwikkeling van die hoofkaraters opgeval het. In Innibos se geskiedenis het teaterliefhebbers beslis nog nooit iets op hierdie skaal gesien nie. Die humorseismograaf dans van die lekkerte.

Sonder die sestal-akteurs plus die groepie individue wat die bruilofbeplanner (Pulane Sekepe) se helpers is, was daar niks om te vertel nie. Hierdie is g’n intrige waarvan ‘n mens self die skelet sou wou uitlap nie. Gaan sien dit vir die verbysterende veelsydigheid van die hele geselskap.

Nicola Hanekom mesmeraais, lei en verlei die gehoor met haar Sybrand/Marietjie… ‘n Toekomstige sigaarrokende skoonma wat jy sal wil vermy. Chris van Niekerk as die bruidegom se pa is in sy element. Hy beeld ook ‘n string eienskappe rondom sy manlike vergrype in liggaamstaal uit.

As Jan-Jan, die eersgeborene van ‘n tweeling, bring Wilhelm van der Walt ‘n karakter na vore wat hy met sy fisieke vernuf, ‘n sterk teenwoordigheid in sy monoloë, veelsydige bewegings en danswerk van meet af aan veelsydig vestig.
Van As as die bruidegom, asook die ander helfte van die tweeling wat een minuut en 36 sekondes later as Jan-Jan gebore is, het veral dramaties plofbare oomblikke puik hanteer.

Amalia Uys in die rol van die bruid, Lelani is deur my groep net in die slottoneel gesien, maar ‘n riemtelegram het my ingelig dat die een tussen haar en haar pa hartroerend is.
Be(t)roudag is ‘n treffer wat jou uitboul!
Daar is nog kaartjies beskikbaar vir die vertoning Vrydag 10:00. 120 minute. Prys: R152.
