Local newsNews

Sjokoladeshow se verleiding is meesterlik

Hoe bitter sou die lewe sonder sjokolade gewees het? Twee akteurs en ‘n musikant voer jou vir 80 minute mee met kleurvolle stories en ‘n mengelmoes uiteenlopende karakters in Die Sjokoladeshow.

Elkeen van hierdie stories het een gemene deler: sjokolade. Reeds wanneer die man met die pluiskeil, in ‘n steam punk-uitrusting geklee, met snaakse plopgeluide die deur van die verhoog krakend oopmaak, weet jy: hier kom ‘n ding.

‘n Monnik is besig om ‘n pot in sy woonplek in die klooster te roer, dan daag die jong non met ‘n spesiale geskenk op. Moeder Mara het dit vir hom gestuur. Reeds in hierdie eerste verhaal wat in 1550 afspeel, word die lyn tussen sjokolade en verleiding onderstreep. Lizz Meiring word voor jou oë die jong meisie wat meteens gekonfronteer word met die waarheid oor haar vader en moeder.

Jak de Priester, wat homself oor die afgelope paar dekades gevestig het as een van ons gunsteling-liedjieskrywers en -sangers, hou sy lyf akteur en kry dit uitstekend reg.

Die een verhaal, waarin hy as Maks, die vaalseun aan ‘n regter moet verduidelik waarom hy die enigste een is wat ‘n feesmaal oorleef het, loop soos ‘n samebindende goue draad deur die storie en laat jou telkens wonder hoe dit verder gaan ontwikkel.

Hy stel ook nie teleur nie en sing drie liedjies in die vertoning wat net bevestig dat De Priester met woorde en klanke kan toor. Meiring, met haar dertig plus jare se ervaring op die verhoog, glip meesterlik, soos ‘n verkleurmannetjie, van die een rol na die ander.

Dit is veral die butch Tamara, besig met haar planne om haar beeldskone suster met sjokolade te vermoor, wat buitengewoon baie plesier verskaf. Die verhaal van Plankie en Blus se liefde vir mekaar is die emosionele hoogtepunt van die vertoning en bring trane na die oë. Die krag van die liefde bly ‘n mens steeds verstom.

Heinrich Pelser is die lang man in steam punk en sy bydrae tot die produksie is soos die silwerfoelielaag waarbinne gehaltesjokolade steeds toegedraai word. Sy lewendige klankbaan verleen beslis ‘n ekstra flair aan die vertoning.
Henriëtta Gryffenberg wat as regisseur optree vir die produksie, het ook die agt tekste waaruit Die Sjokoladeshow saamgestel is, vernuftig in ‘n verhoogteks omskep.

Op ‘n behendige wyse orkestreer sy die akteurs tot ‘n besondere dansduet.

Slim stelontwerp deur Johan Engelbrecht en nommerpaskostuums deur Heidi Bothma du Toit van Hollywood Kostuums dra by tot die sukses van hierdie heerlike teaterbelewenis.

Wanneer die gordyn na 80 minute sak, wonder ‘n mens vlugtig: kon die soet, en effens bitter, maar nie dalk ‘n klein bietjie langer aangehou het nie?

Donderdag 14:00, Vrydag 19:00 en Saterdag 09:00 by Nelspruit Laerskool. Tydsduur: 80 min. Prys: R142.

Foto’s: Mia Louw

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button