Tydlose treffers kry nuwe gees
Die Musiek en Liriek-beweging vier vanjaar sy 40ste verjaardag by Innibos.

Op 24 Maart 1979 in die Laager van die Markteaterkompleks in Johannesburg het nuwe Afrikaanse musiek sy eerste treetjie gegee. Daar was 80 teatergangers by ‘n aand wat Musiek en Liriek genoem is na aanleiding van Merwede van der Merwe se gelyknamige TV-produksie, waarin grootliks die musiek van Anton Goosen en Koos du Plessis gebruik is.

Rosa Keet en De Waal Venter het die konsep van substansiële Afrikaanse musiek na die Markteater geneem – toe reeds die tuiste van protesteater in Johannesburg. Van die kunstenaars wat hul eie werk of toonsettings gesing het, was Jannie du Toit, Clarabelle van Niekerk, Louis van Rensburg, Laurika Rauch (Kinders van die Wind het later in 1979 verskyn) en Anton Goosen (Kruidjie-Roer-My-Nie het in Maart 1979 verskyn). Beide die gemelde liedjies het in dié jaar die amptelike treffersparades gehaal.

Met Musiek en Liriek is die Rubikon van Afrikaanse musiek oorgesteek om as teenvoeter te dien teen die klakkelose vertaling van Europese schlager-liedjies wat aan die orde van die dag was. Weens die oorweldigende sukses en mediabelangstelling is reekse programme in die Laager en binne ‘n kort tyd ook landswyd aangebied.
Kunstenaars wat kort daarna aangesluit het, is onder andere Coenie de Villiers, Amanda Strydom, David Kramer, Anneli van Rooyen en Koos du Plessis. Die media was gaande en die Engelse pers het dit new wave Afrikaanse musiek gedoop.

‘n Weeklange simposium is by die SAUK gehou om die nuwe tendens deeglik te bespreek. Later sou die “luisterliedjie” ‘n gereelde tuiste by Du Toit en Andy Lubbe se liedjie-aande in Margaretastraat kry, waar onder andere Koos Doep, De Villiers, Anneli van Rooyen en Lucas Maree gereeld opgetree het.
Daarna het Van Rooyen se Kerslig Vers en Melodie in die stadsteater in Pretoria begin, waar jong liedjieskrywers ook gehoor kon word en wat vir meer as ‘n dekade ‘n wonderlike dimensie aan Pretoria se kultuurlewe toegevoeg het.

Op die ou end is die toetssteen vir die waarde van Musiek en Liriek die vraag of dit ‘n blywende uitwerking op Afrikaanse musiek gehad het, en die slotsom is sonder twyfel: inderdaad. Die meeste mense is dit eens dat Musiek en Liriek ‘n basis gelê het waarop die Alternatiewes en talle andere sedert 1979 kon voortbou.

Drie van die oorspronklike kunstenaars, al drie reeds oor die afgelope dekade deur Innibos bekroon vir hulle lewenslange bydraes tot Afrikaanse musiek – Goosen, Du Toit en De Viliers – bied nou die verhoogproduksie by Innibos aan om die vier dekades te vier.

Saam met hulle is die skitterende jong sangeres Steffie le Roux, en hulle is gewapen met die talentvolle Schalk Joubert op baskitaar asook die kitaarmaestro Mauritz Lotz en Susan Mouton, hooftjellis van die Johannesburgse Filharmoniese Orkes.

Musiek en Liriek speel by die Hoërskool Nelspruit-ouditorium Donderdag om 11:00, Vrydag om 16:00 en Saterdag om 09:00. Prys: R152.
