Gesin worstel met die spoke van apartheid
My Seuns deur Christo Davids. Met: Sandra Prinsloo, Louw Venter, Sandi Schultz, Edwin van der Walt, Buhle Ngaba, Donovan Pietersen. Regie: Christo Davids

Die postapart-heidsera is aanvanklik gekenmerk deur ‘n vlaag politieke korrektheid wat by tye ook in ‘n aansienlike mate die uitvoerende en beeldende kunste binnegedring het.

Telkens het kunsjoernaliste ná 1994 ook die wens begin uitspreek dat daar veral in die dramakuns ‘n deurbraak bewerkstellig moet word wat temas hanteer wat eie is aan dít wat destyds as die “nuwe Suid-Afrika” beskryf is.

Christo Davids se veelbekroonde My Seuns is een van daardie stukke wat ‘n magdom kwessies rondom maatskaplike samehorigheid al dan nie aanspreek binne ‘n breër gesinsverband. Dit skroom nie om dinge by die naam te noem nie.

Die verhaal wat oor ‘n ongespesifiseerde tydsverloop van ‘n aantal maande afspeel, het ook ‘n ligter, meer humoristiese dimensie. Die uiteindelike afloop daarvan beweeg in ‘n tragiese rigting, met slegs ‘n geringe hoop op versoening wat bly flikker.

Sandra Prinsloo is die ouma in die verhaal, ‘n matriarg binne ‘n Van der Merwe-gesin wie se eggenoot ‘n NP-politikus van aansien in die ou bedeling was. Haar seun, Le Roux van der Merwe (Louw Venter), is ‘n regsgeleerde wat op ‘n kortlys van regters verskyn wat in die nabye toekoms verkies sal word.

Le Roux is getroud met Joy (Sandi Schultz) – ‘n bruin vrou met ‘n politieke betrokkenheid wat eers oor die loop van die stuk duideliker begin uitstaan. Hulle het twee seuns, Ben (Donovan Pietersen) en Tyron (Edwin van der Walt). Hulle onderskeie velkleur verskil aansienlik.

‘n Sesde karakter op dié verhoog is ‘n jong vrou, Ruth (Buhle Ngaba), wat ons aanvanklik laat dink dat sy Tyron se vriendin is, maar in die loop van die verhaal filtreer dit deur dat sy ook by Ben betrokke was.

Davids as regisseur is oënskynlik die ideale persoon om sy eie werk op te voer. Op die meeste vlakke en dan veral by die opbou van interpersoonlike spanning, oortuig hy met sy grondige ontleding. Hy voed ook nie die kyker lepelsgewys van inligting nie, maar weerhou iets daarvan.

Die gevolg is dat kykers aanvanklik gegewens verskillend sou kon interpreteer – meerendeels ‘n situasie wat bepaal word deur die omvang al dan nie van die gehoor se verwysingsraamwerke en insigte.

Prinsloo is nie verniet ‘n legende nie. Haar totale metamorfose na ‘n vrou wat tussen vlae van demensie en Alzheimersiekte van tyd tot tyd ook nog kristalhelder kan dink en toon dat sy vir kort oomblikke met gevatte waarhede vorendag kan kom, val in die kleinste details op. Eweneens is dit haar gesigsuitdrukkings en fisieke uitstraling wat as synde buitengewoon outentiek uitstaan.

Die rolverdeling as geheel is ‘n toonbeeld van ensemblespel wat heg saamgebind word, met Venter, Schultz en Van der Walt aan die voorpunt, maar Ngaba en Pietersen eweneens voortreflik.

Vandag 12:00 by die Mbombela Stadsteater. Tydsduur: 90 min. Prys: R152.
