’n Man moet oppas met wie hy laatnag sy lewe deel
Deur: Retief Scholz Met: Melt Sieberhagen, Albert Pretorius Regie: Etienne Fourie

‘n Stuk soos Nagskofkliek plaas jou in die loop daarvan op talle syspore waarvan die meeste jou nie bepaald noodwendig of uiteindelik by die regte stasie of eindbestemming gaan uitbring nie. Die 2019 feesgids dui die stuk aan as synde ‘n “komiese drama” en dit is seker ook korrek só, maar met die bonatuurlike elemente daarin mag sommiges dit eerder as ‘n spookstorie beskryf.

Selfs die okkulte kom skuur plek-plek skouers met die dramatiese en komiese. Flitsende verwysings na fantasmagorie dui op ‘n momentele koersvernadering terwyl ‘n fantasieryke magiese realisme ook in die teks en inkleding na vore kom, al is dit alles relatief kortstondig.

Retief Scholtz (dink aan Be(t)roudag en Die Voordele van Eierwit, om onsself net tot Innibos 2019 te beperk), is een van die belangriker nuwe-geslag dramaturge wat sy stempel op hoogs oorsponklike stukke begin plaas het en Nagskofkliek val bepaald ook in dié kategorie.

Melt Sieberhagen is te sien as die opofferende goodie genaamd Hans Gous, wat by die veiligheidsmaatskappy waar hy reeds 12 jaar werk, feitlik sonder uitsondering sal instaan vir kollegas wat oor Pase, Kersfees of Oujaarsaand wil gaan kuier of pret bo plig verkies. Sieberhagen speel aanvanklik die rol as ‘n gemoedelike beertjie. Die middel van die nag is die tyd wanneer hy begin moeg raak het vir deurnagradio en liefs ‘n gesprek begin met die winkelpop waarmee hy sy lewensspasie deel.

Ons kom ook te wete dat ‘n meisie wat intussen vrou geword het, ene Lindi Loots, ‘n beduidende faktor in dié verhaal sal begin speel. Hy bring tee (gewone Ceylon-tee gemeng met rooibos) van die huis in ‘n fles met hom saam. Maar dan verskyn ‘n man met die naam Man (Albert Pretorius) – ook, soos hy, bebaard, maar met ‘n paar vreemde fetisje waaronder die belangrikste een die dra van trourokke is en waarmee hy in die hoërisikosekuriteitgebied wat Hans oppas paradeer.

Hans het terloops vóór Man se verskyning een van die bewaringskratte oopgemaak om ‘n teekoppie te vind waaruit hy kon drink. ‘n Meer bomenslike element tree die verhaal binne en die poppe (sigbaar én onsigbaar) begin dans…
Die dialoog se spitsvondigheid verhoog en die komiese slaan in, maar nooit vir te lank nie. Daar is ‘n boeiende ambivalensie aan’t ontwikkel – veral in die episode waar kontak met Loots gemaak word en Hansen met haar begin kommunikeer.

Dis dan wat Loots se stem begin praat uit die mond van die statiese winkelpop.
Albert Pretorius se immer bykans volmaakte pasklaarheid wat in elke verhoog- of rolprentrol na vore kom, word ook hier met heelwat nuanses in sy spel en stemaanwending bewaarheid.

Nagskofkliek se debuut bied ons ‘n sterk en hoogs belowende blik op huidige en moontlik ook toekomstige ontwikkelinge in Afrikaanse toneel. Probeer gerus om dit by jou kortlys van produksies in te pas.
Vandag 09:00 en Saterdag om 14:00 by Laeveld Laerskool. Tydsduur: 75 min.
Prys: R142.
