Gimnaste bokspring bo-oor die kompetisie
Die kampioenskappe van die noordelike sone is by die Matsportsentrum in Eldoraigne aangebied en die seuns en dogters van NGA het goed gevaar.

Nelspruit Gimnastiekakademie (NGA) het tydens die onlangse kampioenskappe in Eldoraigne, Pretoria, die streek se naam hoog gehou. Die kampioenskappe van die noordelike sone is by die Matsportsentrum in Eldoraigne aangebied en die seuns en dogters van NGA het goed gevaar.
Hulle het teen vier ander provinsies meegeding en hulle goed van hul taak gekwyt. Die dogters het 28 goue medaljes, 21 silwermedaljes en 2 bronsmedaljes in die kompetisie verwerf. Nie tevrede om op hulle louere te rus nie, het talle van die dogters ook gemiddeldes bo 9 behaal.
LEES OOK: Gesoute klerk lê na 47 jaar die tuig neer

In die vlak 1-kategorie het Alia Leewner, Teagan Pappas, Xiluvu Whati, Zandri Schutte, Riette Botha, Simone Fourie, Savannah Govender, Cladine van Emmenes, Amoche Ebersohn en Sne Mashaba hierdie prestasie behaal. Die NGA se seunsgimnaste het ook uitgeblink teen hul mededingers en teruggekeer met 4 goue medaljes, 6 silwermedaljes en 4 bronsmedaljes.
Alex Arnot het sy bekwaamheid gewys en ‘n gemiddeld bo 9 behaal in vlak 3. Daar lê ‘n besige seisoen voor vir die span. Die vlak 1- tot 3-gimnaste sal vanaf 1 tot 4 Julie ‘n tuimelkursus in die middae by NGA bywoon, terwyl die Vlak 4- tot 7-gimnaste die kwartaal begin met kompetitisies en ‘n taai oefenprogram.
LEES OOK: Gastehuis vier 20 jaar in idilliese bergdorpie
Die NGA se afrigters het hulle tevredenheid met die span se prestasies uitgespreek en gesê dat hulle uitsien na die nuwe seisoen wanneer die gimnaste dadelik gaan inspring om die volgende vlak se vaardighede in te oefen.
