Twee dood na voertuig in rivier beland
Daar het ook beseerdes langs die pad gelê en ander het uit die veld te voorskyn gekom.
Twee mense is dood en 14 ander beseer toe ‘n bakkie laat Saterdagaand in die Sabierivier langs die R40 net buite Hazyview beland het.
Volgens ‘n Spes-Plan-woordvoerder het die wag op die westelike grens van Kruger Park Lodge om 23:10 ‘n harde slag uit die rigting van Hippo Hollow, ongeveer 800 m daarvandaan, gehoor.
Hy het die beheersentrum laat weet waarna ‘n reaksie-eenheid na daardie rigting uitgestuur is. By hulle aankoms het die eenheid gesien dat daar ‘n bakkie onder die brug in die rivier lê, met ‘n deel van die kappie op die brug.
Daar het ook beseerdes langs die pad gelê en ander het uit die veld te voorskyn gekom.
Hoewel die presiese oorsaak van die ongeluk onbekend is, kom dit voor asof die bakkie, wat uit Bosbokrand se rigting gekom het, reguit gehou het waar die pad na regs begin draai. Dit het waarskynlik toe die sterk staalreling links van pad verskeie kere raakgery voordat dit bo-oor die reling langs die skouer van die pad geland en uiteindelik binne in die rivier beland het.
Die kappie het afgebreek en al die passasiers wat agterop die bakkie gesit het, het waarskynlik afgeval voordat die bakkie met die bestuurder en passasier oor die rivierwal afgestort het.
Spes-Plan se eenheid het die polisie en ambulanse in Hazyview in kennis gestel, waarna twee SAPD-voertuie en twee Hi-Tech-ambulanse kort daarna opgedaag het.
Die bakkie se bestuurder het oorleef, maar een passasier is op die toneel oorlede, en ‘n ander een kort daarna. Veertien ander is beseer.
Die verkeer op die R40 is Sondagoggend ook vir ‘n tyd lank op die toneel vertraag toe daar probeer is om die voertuig uit die rivier te herwin, sowel as deur naasbestaandes wat op die toneel saamgekom het vir ‘n afskeidsritueel aan die afgestorwenes.
Teen druktyd was die kommunikasie-beampte van Hazyview SAPD met verlof en kon daar nog nie vasgestel word of die bestuurder se bloedalkoholvlak getoets is en of hy moontlik vir roekelose bestuur en die oorlading van ‘n voertuig aangekla sou
word nie.
