Local newsNews

Sean Adlem is terug by die huis na stryd met kanker

Na ongeveer twee maande in die hospitaal is Sean Adlem, oftewel Super Sean, uiteindelik terug by die huis. 

MBOMBELA -Sy ma, Amor, het hom as kleuter al dié naam gegee om hom te help braaf wees wanneer hy bang was vir iets.
“Moenie bekommer nie. Jy is Super Sean. Jy kan dit doen.”

Nooit het sy egter gedink dat sy hierdie aanmoediging vir hom moet gebruik gedurende ‘n kankerstryd nie.

Laevelder het voorheen berig dat Sean minder as ‘n maand nadat hy sy 12de verjaarsdag op 10 April gevier het, met Ewing-sarkoom gediagnoseer is.

Dit is ‘n aggressiewe tipe beenkanker wat, onder andere, intense pyn veroorsaak. Dit het ook veroorsaak dat die T7-beentjie in Sean se rugstring verkrummel en dat hy nie meer kon loop nie.

Op 6 Mei het hy sy eerste chemobehandeling by die Netcare Clinton Hospitaal in Johannesburg ontvang. Sedert Saterdag is Sean egter terug by die huis. Teen Maandag was sy witbloedtelling hoog genoeg dat hy uit isolasie kon kom.

LEES OOK: Sarkoom kry dapper Sean nie onder nie

“Die onsekerheid is so erg. Dit hou jou op jou tone en jy leer om dit dag vir dag te vat. Dit is egter weer eens die gegrondheid in ons geloof wat ons hier deurtrek,” sê Amor.


Hoewel sy weet dat Sean sterk is, kan sy sien hoe hy sukkel.

“Ek sien hoe gefrustreerd hy raak wanneer hy probeer loop. Dit is moelik vir enige mamma om haar kind so te sien. Dit is nie dat jy jammer voel vir hulle nie, jy raak eintlik net liewer vir hulle.”

ALSO READ: A clarion call to move mountains for cancer patients

Hul prioriteit tans om die sarkoom te vernietig en daarna sal hulle daarop fokus om Sean weer volkome te kan laat loop.

“My grootste wens is dat ek hom kan leer om hierdie hartseer om te draai en te laat besef dat as hy dit eers hierdeur gemaak het, niks vir hom te moeilik gaan wees nie.”

Sean het nog drie chemo-sessies oor waarna sy behandelingsplan hersien sal word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button