Angels en seniors kuier die winter heerlik warm
'n Danskompetisie het plaaslike seniors hulle litte laat losmaak en het gesorg vir 'n bietjie kleur in die wange tydens die Guardian Angels se Junie-byeenkoms by Phumula Kruger Lodge.
MARLOTHPARK – Die Guardian Angels se Junie-byeenkoms by Phumula Kruger Lodge het almal behoorlik gekoester laat voel.
Die maandelikse kuier vir pensionarisse van Malalane, Hectorspruit en Marloth Park het winter as tema gehad en almal is aangemoedig om iets wollerig aan te trek. Dit het gedien as herinnering dat almal hulself en ander moet koester.

Die groep is met ‘n seënwense van shalom (vrede) begroet en is herinner dat God in beheer is. Hulle is ook met gedigte oor winter vermaak, met verskeie lede wat Winternag van Eugène Marais uit hul skooldae onthou en saam voorgedra het.
LEES: Guardian Angels seniors dress their best for high tea
Die seniors kon tussendeur aan ‘n pakkie springmielies smul en is bederf met ‘n heerlike tunavoorgereg, smaaklike sop en sjokoladekoek vir nagereg.
Die groep het entoesiasties op die maat van “Sonbrilletjies” van Al Debbo gedans en die twee beste dansers, Pukkie du Ru en Dorothy McFarlane het elk ‘n geskenkie ontvang.

Elkeen kon ook ‘n pragtige, gehekelde sneeuvlokkiedrupmatjie huis toe neem.
LEES: Kenya’s Karate Grannies Master Self-Defense
Die groep Guardian Angels is weer aan die seniors voorgestel en twee nuwe lede is ook verwelkom.
Die komiteelede kom maandeliks bymekaar en neem beurte om elke maand ‘n kuierdag vir bejaardes te beplan. Die kuier sluit gewoonlik eetgoed, ‘n speletjie of praatjie en hope kuiertyd in.

Die doel van die organisasie is om hulp aan bejaardes te verleen, veral dié wat nie familie het om hulle by te staan nie. Daar word ‘n helper aan seniors toegeken, wat hulle gereeld besoek en na die winkels of dokters- en ander afsprake vergesel.
Om deel van die Guardian Angels te word of ‘n bydrae te lewer, skakel Eva Bruce by 082-538-0276.
