Local newsNews

Nomads rolbalspelers samel weer geld vir liefdadigheid in

Al die geld wat ingesamel is met die boetes, spel, koeksisterverkope en lootjies was ten bate van die DBV in Bethal om hul veeartsrekening te vereffen.

Twee van Hazyview se rolbalspelers, Darryl en Christie Cross het vanjaar saam met Laeveld-spanne aan die Nomads All Transvaal Tournament in Ermelo deelgeneem.

Na die suksesvolle aanbieding van die toernooi verlede jaar, het Ermelo Rolbalklub vanjaar die voorreg gehad om die Nomads namens die Hoëvelddistrik te huisves.

Die Nomads reis sedert 1982 deur die land waar hulle dorpe en rolbalklubs besoek en aan toernooie deelneem, met die doel om op ‘n nasionale en plaaslike vlak geld vir liefdadigheid in te samel.

Altesaam 96 spelers (24 spanne) het aan die toernooi deelgeneem. Dit word tradisioneel deur nege van die land se 20 distrikte ondersteun, naamlik Jacaranda, Johannesburg, East Rand, Lowveld, Vaal en Vereeniging, Golden West, Swaziland, Mpumalanga en Highveld.

Die spanne het elk Saterdag drie en Sondag twee wedstryde gespeel, met tussendeur verskeie spel en lootjies wat die geldpot aangevul het.

Sondag na middagete het Renier Botha, vanjaar se boetebeampte wat die Nomads die naweek met ‘n valkoog dopgehou het, die mikrofoon geneem en die Nomads moes hul hande diep in hul sakke steek om vir hul “sondes” te betaal. Oudergewoonte was dit ‘n hoogtepunt van die naweek waar niemand ontsien is nie en almal het goedhartig gegee.

Al die geld wat ingesamel is met die boetes, spel, koeksisterverkope en lootjies was ten bate van die DBV in Bethal om hul veeartsrekening te vereffen.

‘n Bedrag van R10 000 is die naweek ingesamel en deur Bertie Erasmus, president van die Hoëvelddistrik aan Laurna Coetzer van Bethal DBV oorhandig.

Coetzer het die Nomads bedank dat hulle hul harte en beursies so vrylik oopgemaak het en so tussen die trane deur vertel dat dit al hul verwagtinge ootref het.

Tussendeur al die liefdadigheid en kameraadskap was almal egter steeds daar om rolbal te speel en die kompetisie tussen die spanne was straf.

Resultate:

Vroue:

• Eerste plek: Vereeniging en Vanderbijlpark 1

• Tweede plek: Jacaranda

• Derde plek: Vereeniging en Vanderbijlpark 2

Mans:

• Eerste plek: East Rand

• Tweede plek: Vereeniging en Vanderbijlpark 1

• Derde plek: Vereeniging en Vanderbijlpark 2.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button