Mustangs eerste jaar betrokke by die Great Nelspruit Post Pub Crawl
Vanjaar se Great Nelspruit Post Pub Crawl is een van die dae op ons, en die dorp se heel nuutste kuierplek gaan deel wees van die pret.

Die wilde weste-kuierplek Mustangs maak eersdags sy deure oop. Dié nuutjie beloof om ‘n kuierplek vir oud en jonk te wees.
“Ons hou baie van dans en het besef dat daar werklik ‘n mark vir ‘n goeie dansplek in die dorp is,” sê Mustangs se eienaar, Bejanke Nel.
Haar verloofde en projekbestuurder, Jaco Swart, voeg by dat hulle ‘n tema wou hê wat by die oudheid en outentisiteit van die Laeveld pas en het daarom op ‘n wilde weste-tema besluit.
Fase een van dié projek is amper voltooi en sluit ‘n buitekuierarea, ‘n ruim dansvloer en twee kroeë in. Die paartjie beoog ook om verskeie kunstenaars op hul verhoog te verwelkom.
ALSO READ: The Great Nelspruit Post Pub Crawl is back
Gedurende die dag sal dié kuierplek as ‘n restaurant vir die gesin dien. As die son sak, word die meel op die vloer gestrooi en kan gaste hulle regmaak vir ‘n behoorlike plaassokkie.
Vir die jonges van gees sal daar ook pop- en dansmusiek gespeel word. “Dit is egter nog net die begin,” vertel Nel. Die plan is dat daar ook ‘n snoekerkroeg op die perseel oopgemaak gaan word, sowel as ‘n groter verhoog waarmee hulle graag van Suid-Afrika se grootste kunstenaars wil lok.

Hoewel die paartjie nuut in die vermaaklikheidsbedryf is, het hulle ou hande ingeroep. Phat Boyz en Marlin’s se Chris en Carmen Naudé gaan hul spyseniering behartig en hulle bystaan.
“Ons hoop om dit ‘n baken in die Laeveld te maak.” Hou gerus die media dop om te sien wanneer hierdie unieke kuierplek se deure oopmaak.
