Local newsLocal sportNewsSport

Sit-sit so skiet Alex boog dat dit klap

Alex het die kuns aangeleer om die boog met sy mond te span en die pyl só af te skiet.

Soos die meeste ander 17-jariges, is Alex Shaw gek na die sport wat hy beoefen.

Dit is dan ook sy droom om die Nasionale Boogskiet in Skoleprogram (NASP) se span te haal sedert hy twee jaar gelede met Willem Jacobs van Witrivier se hulp dié sport onder die knie gekry het. Wel, miskien is “onder die knie” nie heeltemal van toepassing op Alex nie, want hy hanteer die kuns van boogskiet so effens anders as ander beoefenaars daarvan.

Alex is ‘n hemipleeg.

Hy het voor geboorte reeds ‘n beroerte gehad en gevolglik is die motoriese gedeelte van sy brein nie normaal ontwikkel nie. Sy regterhand is spasties en sy bene is ook aangetas.

As gevolg hiervan kon hy eers op agtjarige ouderdom self begin loop en hy kan natuurlik glad nie die boog met sy regterhand span wanneer hy sy gunstelingsport beoefen nie.

Alex het dus die kuns aangeleer om die boog met sy mond te span en die pyl só af te skiet.

Hy moet ook op ‘n stoel sit wanneer hy skiet, want hy kan nie sy balans goed hou as hy staan nie. Dié aanpassings stuit hom egter glad nie en hy oefen so dikwels as moontlik, steeds saam met Jacobs. Laasgenoemde is lid van Mpumalanga NASP se Adult Archery Group (AAG) wat gestig is om volwassenes by die program in te sluit sodat instrukteurs en ouers meer by die sport betrokke kan raak. Dit help om hul vaardighede te ontwikkel om die kinders beter op te lei.

“Wanneer ek goed skiet, is dit die beste ding ooit en dit frustreer my grensloos as ek die pyle verkeerd skiet,” sê Alex.

Hy is tans ‘n leerling aan die Accelerated Academy in Witrivier. “Die meeste gewone skole se sportkeuses is nie geskik vir kinders met gestremdhede nie, maar gelukkig bied die ACE-privaatskole (waarvan Accelerated Academy een is) boogskiet as een van hulle sportsoorte aan.”

Sy bywoning van hierdie skool verg ook heelwat opoffering van Alex en sy gesin, want hulle woon in Hazyview waar sy ouers, Neil en Sindy, hul eie sakeonderneming bedryf.

Alex hou ook van skaak speel en musiek luister en het ‘n sussie, Ashley (10).

Hy word veral deur sy ouers, en natuurlik Jacobs as sy afrigter, geïnspireer en sê hy glo die Here gee kom elke dag die krag om te doen wat hy doen. “You are allowed to scream, you are allowed to cry, but don’t give up!” is sy motto.

Wanneer hy klaar is met skool, beplan hy om by sy ouers in hul sakeonderneming aan te sluit, maar teen daardie tyd hoop hy darem om ook steeds ‘n lid van die gesogte NASP-span te wees.

• NASP is ‘n organisasie sonder winsoogmerk met die doel om boogskiet onder kinders te bevorder. Dit bied sportgeleenthede vir alle kinders, veral ook individue soos Alex wat fisiese uitdagings ervaar.

Tydens die 2018-interprovinsiale en nasionale kampioenskappe wat in Rustenburg gehou is, is drie spanne gekies om Suid-Afrika tydens die NASP-Afrika-toernooi wat by die Mistico Equestrian Estate in die Paarl gehou is, te verteenwoordig. Die junior nasionale span, nasionale ontwikkelingspan en die nasionale AAG-spanne van Suid-Afrika, Botswana, Namibië en Zimbabwe het deelgeneem.

Mpumalanga word tans slegs deur twee persone verteenwoordig, waarvan Jacobs een is.

Daar is 15 aktiewe skole of eenhede in die provinsie en in die September-skoolvakansies bied Mpumalanga die nasionale kampioenskappe in Witbank aan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button