Innibos skenk R21 000 aan Pro Gratia-leersentrum
Die oorblywende R18 000, wat by Loof Hom Innibos ingesamel is, gaan tussen Dasha Foundation en Rustig Ouetehuis verdeel word.
MBOMBELA – Daar was groot opgewondenheid toe Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees Donderdag besoek afgelê het aan Pro Gratia-leersentrum.
Sandra Jacobs en Mariolise le Roux van Innibos se bemarkingspan was daar om ‘n bedrag van amper R21 000 aan die skool te oorhandig.
Volgens die skool se permanente sjef, Iris Kühn, gaan die geld gebruik word vir die gasvryheidsentrum. Met dié sentrum poog die skool om opleiding te bied vir leerders wat moontlik eendag sjefs wil word, met die doel dat hulle ook eendag selfstandig kan wees wanneer hulle die skool verlaat.
LEES OOK: Cleaning and colour for Pro Gratia
Pro Gratia se bestuurspan was na aan trane toe die oorhandiging gemaak is en die senior leerders van die gasvryheidsentrum het ook spesiaal ‘n lemoenkoek gebak om die dag te vier.
Hulle het tydens die fees in die BBP-area se kombuis gewerk om praktiese ondervinding op te doen.
“Ons kan nie genoeg dankie sê nie. Dit is werklik net genade van bo,”
het Kühn gesê.
Volgens Jacobs is hul bydrae alles te danke aan die oop hande van die gemeenskap.
LEES OOK: Youth Day flavoured to perfection for Pro Gratia
“Ons kan niks doen sonder ons gemeenskap nie en dit is vir ons ‘n voorreg om ook so nou daarby betrokke te wees.”
Afgesien van die geld, het die fees ook ‘n fotostaatmasjien, lêers en melk aan die skool geskenk wat hulle in hul kombuis kan gebruik.