Hazyview kry die keer die oorhand oor Matsulu
Almal het net een doel voor oë gehad - om met Matsulu se sterk span af te reken.
Dit was ‘n vasberade Hazyviewse rugbyspan wat Saterdag onder leiding van kaptein Giardt Greyling op Laerskool Numbi se veld gedraf het.
Almal het net een doel voor oë gehad – om met Matsulu se sterk span af te reken nadat hulle vroeër in die seisoen met 19 punte die knie voor dié teenstanders se 35 moes buig.
Hoewel dit duidelik was dat die plattelandse span nog baie kan verbeter, het hulle uitmuntend in hul doel geslaag deur dié keer met 34 punte teenoor 26 te seëvier.
Matsulu kon daarin slag om vier keer agter die doellyn te gaan kuier en om vier van die drieë te verdoel.
Hazyview kon een keer meer hul teenstanders se doellyn oorsteek, het drie keer die verdoelskoppe oorgeskop en Weber Levendal het boonop met ‘n skepskop geslaag.
Hazyview se drieë is deur Jean Mazibeni, Weber Levendal, Neels du Preez, Wayne Colyn en Hein Grobler gedruk.
Colyn is as die voorspeler van die wedstryd aangewys en Levendal as agterspeler.
Die klubbestuur het na die wedstryd hul dank teenoor al die borge uitgespreek wat dit vir die span moontlik maak om aan die Mayors Reserve League deel te neem, asook vir die gemeenskap wat die rugbywedstryde getrou bywoon.
Hulle het ook Joel Ritson as nuwe afrigter van die span welkom geheet.
Die manne in die heldergroen truie speel eerskomende Saterdag weer teen die Impalas op Komatipoort.



