Loeries ondersteun plaaslike liefdadigheidsorganisasies #Nelspruit DBV
Die VLU het vanjaar die Nelspruit DBV gekies as ontvanger en hulle poog om hierdie organisasie by te staan.

Die Loerie-tak van die Vroue Landbouunie (VLU) het goed gedoen met hul belofte om liefdadigheidsorganisasies te ondersteun met die finansiële opbrengs van hul koffiestalletjie by vanjaar se Innibos.
Dìe tak het betaal vir herstelwerk op ‘n bakkie van die Mbombela-tak van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) en die herstelde bakkie op Mandela Dag oorhandig.
VLU-takbestuurder Linda Smith het gesê: “Met Innibos het ons ‘n koffiestalletjie gehad en die wins wat ons maak, gee ons elke jaar vir liefdadigheid.
“Hierdie en volgende jaar het ons die Nelspruit DBV gekies.”
LEES OOK: Mustangs eerste jaar betrokke by die Great Nelspruit Post Pub Crawl

Smith vertel dat hulle in verbinding getree het met die organisasie en op so ‘n manier uitgevind dat die bakkie herstelwerk kort.
“Ons is van plan om deur die jaar betrokke te bly met projekte saam met die DBV. Dis waaroor die koffiestalletjie gaan. Die geld wat ons maak, word teruggeploeg in die gemeenskap.”
Sy het ook die sakelui versoek om soortgelyke inisiatiewe te ondersteun. “As ons ‘n borg kan kry, kan ons meer gee. Die DBV het ‘n groot nood en ons wil ook die groot wanindruk omtrent wat die DBV doen, uitwis.”
Ludi Botha, mediaskakelingsbeampte en vise-voorsitter van die DBV in Mbombela, was byderhand om die herstelde bakkie te ontvang.
LEES OOK: On your marks, get set and be ready for this year’s #PubCrawl
Hy het gesê: “Dit help vreeslik baie, want ons voertuie is pal aan die beweeg. Die feit dat die voertuig weer op standaard is en padveilig is, beteken dat die inspekteur veilig kan kom waar sy moet wees.”
Smith het afgesluit en gesê: “Elke klein bedraggie en skenking maak ‘n groot verskil.”
