Sasol buig die knie voor plaaslike rugbyhelde
Die wedstryd teen Sasol het toeskouers op hul tone gehad.
Met hul oorwinning van 34 – 27 oor Sasol 1 het Witrivier se eerste rugbyspan die eerste van die doelwitte wat hulle aan die begin van die seisoen gestel het, bereik.
“Ons besef egter dat hierdie doelwitte tervergeefs sal wees indien ons nie die finale wedstryd ook kan wen nie,” se hoofafrigter Deon Helberg.
“Ons is trots dat ons die eerste doelwit kon bereik en het ook as span gegroei en as individue baie ontwikkel.”
Die span se sukses is waarskynlik daaraan te danke dat elke speler sy rol in die plan verstaan en persoonlik verantwoordelikheid neem om dit tot die beste van sy vermoë uit te voer.
Die tweede span het vanjaar net so ‘n groot bydrae gelewer, wat sigbaar is in hul posisie bo-aan die punteleer. Hulle kom nou teen Middelburg in die finaal te staan. Saam met hul afrigter Neil Grobler het hulle ‘n sterk platform vir die eerste span gebied.
Die wedstryd teen Sasol het toeskouers op hul tone gehad. Daar is goeie rugby gespeel en die tuisspan se plan is baie goed uitgevoer.
Die voorspelers het dit vir die agterlyn maklik gemaak om vandaar die nodige te doen en hulle het op hul beurt uitstekend van die voorvoet-bal gebruik gemaak om uitmuntende drieë te druk.
Witrivier se verdediging was ook goed teen ‘n baie goeie aanval van Sasol.
“Maar ons het nog baie om aan te werk, om reg te maak en te skerp voor die finaal!” voel Helberg. “Ons vra elke ondersteuner om al ons spanne in die finale te ondersteun, want ons het elkeen werklik nodig.”
Puntemakers teen Sasol 1:
Drieë is gedruk deur Juan Bester, Nazo Nkala, Mervin Gilbert en Martin Mangwiro.
Barend Smit het met twee strafdoele en vier doelskoppe geslaag.
Nazo Nkala en Wilmaur Louw is as agterspelers van die wedstryd aangewys en Juan Bester en Pieter Prinsloo as voorspelers.
