Local newsNews

Stigter van Nelspruit Eisteddfod deel kosbare herinneringe

Frances Conradie het die kunstefees in 1979 begin en die fees vier vanjaar sy 40ste bestaansjaar.

MBOMBELA – Dit is 1979. ‘n Plaaslike musiekonderwyser met die naam Frances Conradie besluit dit is tyd dat al die musiekskole saam ‘n kompetisie moet hou om hul leerders vir eksamens voor te berei.

Die beoordelaar word gereël, die NG Kerk Nelspruit-Suid word bespreek en met ‘n 100 deelnemers vind die heel eerste Nelspruit Eisteddfod plaas.

Veertig jaar later staan die Nelspruit Eisteddfod met ‘n bietjie meer as 4 000 inskrywings en sewe afdelings nog sterk en kyk hulle graag terug na waar alles begin het.

Die Conradie-gesin in 1973.

“Ons het ‘n baie sterk musiek-onderwysersvereniging gehad,” onthou Conradie, wie vir ongeveer 20 jaar aan die stuur van sake by die eisteddfod gestaan het. “Ons het altyd konserte vir ons leerders gehou en besluit om saam te smelt. Die eerste keer het ons eintlik net klavier en sang gehad, met ‘n bietjie viool en blokfluit.”

In 1980 het hulle na die stadsaal verskuif.

LEES OOK: VIDEO EN FOTOS: Nelspruit Eisteddfod 2018 gala-aand: Die kunste saam op een verhoog

Die Conradie-gesin in 1997 by die eisteddfod.

“Mettertyd het ons begin met dans en vir twee jaar na mekaar het ons ook tradisionele dans ingesluit. Daarna het ons met Afrikaanse en Engelse drama begin.”

Die koorafdeling het daarna bygekom en toe ook die visuele kunsafdeling.

“Partykeer was dit opdraende en ander tye het dit weer goed gegaan. Dit is ongelooflik dat dit gegroei het tot waar dit vandag is.”
Wat wel dieselfde gebly het, is die feit dat die eisteddfod altyd in Augustus gehou word.

“Oorspronklik was dit net een dag lank en toe word dit drie dae. Daarna het dit ‘n week geword en nou is dit al vyf weke lank.”

Sy onthou dat hulle die inskrywings oorspronklik met die hand moes tel en die program met die hand skryf en uitwerk. Hiervoor het die komitee dan by Conradie se huis bymekaargekom, waar een van die ander komiteelede hulle met lemoene en naartjies bederf het.

Louis en Frances Conradie.

In 1990 het hulle in ‘n rekenaar belê en die program is toe uitgewerk op dieselfde rekenaarprogram wat die weermag gebruik om hulle tye uit te werk.

LEES OOK: Get ready for the 2019 Nelspruit Eisteddfod

Conradie het in 2012 na Mthatha in die Oos-Kaap verhuis, maar sê dat sy steeds baie na die eisteddfod verlang. Haar grootste doelwit met die kunstefees was dat kinders dit moet geniet en aan ‘n gehoor blootgestel word.

“Tree op met jou siel, gee alles wat jy het en geniet dit. Om op te tree bied ongelooflike genot.”

Die 40ste Nelspruit Eisteddfod skop Maandag by Communio Kerk af. Toegang is gratis. Die volledige program is beskikbaar by
www.nelspruiteisteddfod.co.za.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button