Meer mense woon Wildsfees vanjaar by
Terwyl die plaaslike rugbyspan vir spannende rugby voor die paviljoen gesorg het, het ander die fees agter die paviljoen geniet.
Die Fathers Ground-beweging van Laerskool Witrivier is die naweek verras toe bykans dubbel die hoeveelheid besoekers as verwag hul Wildsfees by die Witrivier Rugbyklub bygewoon het.
Terwyl die plaaslike rugbyspan vir spannende rugby voor die paviljoen gesorg het, het ander die fees agter die paviljoen geniet.
Verskeie bomas is bespreek, waar elke span sy eie potjiekos vir hul gaste voorberei het. Daar was ook meer eksotiese disse soos krokodilstert en elandlewerpatee by die ingang van die terrein beskikbaar om te proe. White River Junior Dads (van Witrivier Kleuterskool) se boma was die wenner, met dié van Pride Rock (MC Auto) as tweede beste en TWK (Platorand) in die derde plek.
Bomas is beoordeel volgens die dekor, algemene atmosfeer en gaste se ervaring, die potjie self, aktiwiteite en ‘n toets-jou-wildkennis-vraelys.
Die White River Junior Dads het ook die beste potjie gekook, Gametan het met die beste dekor gespog en NTT Toyta se mense het die beste wildskennis gehad.
Jean Meintjes van Gravelotte, Jacques Rooibaard van Kwanyoni Lodge en Willem Sous, Fathers Ground se eie sjef, was die beoordelaars.
Ander meer ongewone wenners was daar ook. Dalene Minnaar is onomwonde as die bokdrolspoegkampioen aangewys.
