GRASKOP – Met sy eksentrieke persoonlikheid herinner Manie Connoway aan die ikoniese karakter “the Mad Hatter”. Vir sy drie dogters dra hy die kep van hul pa en beste vriend, vir toeriste en beroemdes sit hy die pet as eienaar van die Flycatcher-kasteel op, in kunskringe dra hy die keil van beeldhouer en sosiale aktivis, en vir dié wat sy geskiedenis ken, dra hy ook sy doktorshoed in sielkundige antropologie.

Sy gesprekke is deurspek met die woorde “eerlikheid”, “nederigheid”, “vergifnis” en “liefde”, want, soos hy sê, “op my ouderdom het ‘n mens nie meer tyd vir onbenullighede nie”.
In 1986 verwerf Connoway sy doktors-graad in sielkundige antropologie aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit. ‘n Bietjie meer as 10 jaar daarna, in 1997, roep hy egter die wetenskap vaarwel vir “iets wat baie nader aan my hart lê, my beeldhouwerk”.

Flycatcher-kasteel, ‘n gastehuis, trou- en onthaalvenue, is ook gemaak na die voorbeeld van ‘n klein kleibeeld wat Connoway self gemaak het. Die kasteel het sy deure in 2006 oopgemaak. Die fasade is geïnspireer deur die Nuovo-kasteel in Italië en die St. Columba Presbiteriaanse kerk in Johannesburg. Die vloere is gemaak uit blokkies van gesloopte huisvloere, terwyl die vensters aan die voorkant van die kasteel almal van een gesloopte huis in Kensington, Johannesburg, afkomstig is.
LEES OOK: Wenslys vir Bejaardes pleit vir hulp van gemeenskap
Die indrukwekkende loodglasvensters het Connoway ook self gemaak, en die res van sy beelde word regdeur die kasteel uitgestal en trek veral fokus in dié venue se kapel. Anders as die wetenskap, het sy beeldhouwerk hom ook gehelp om die trauma in sy lewe te verwerk.
“Oor generasies heen word ons geleer dat dit verkeerd is om ‘n ‘mof’ te wees. Ek beskou myself as baie naby aan God en geestelik,”
maar hy bevraagteken gereeld die teenstrydigheid in moraliteit wat in Christene afspeel.

LEES OOK: KYK: Alita Steenkamp en Stefaans Coetzee gesels oor nuwe boek
Met sy beeld The Bride of Christ and her Unlawful Lover spreek hy veral teoloë aan.
“Teologie is so ‘n arrogante woord. Dit beteken die studie van God. Hoe durf mense God bestudeer – ‘n mens kan Hom nooit so ken nie. Dit is dieselfde mense wat hulself dan in mags- en gesagsposisies bevind en vir ons leer dat gay-wees verkeerd is.”

So spreek elkeen van sy beelde ‘n sosiale standpunt aan.
“Van my beelde steek ek wel weg. Die buitelanders wat hier kom is darem meer oopkop en van my beelde kan ek vir hulle wys.”
Sy tyd bring hy in dié kasarm deur met gaste en sy sewe honde, “want daar is geen groter geluk as sewe honde wat jou oplek wanneer hulle jou sien nie”.
