Harte van goud skyn in Witrivier se donker
Tussen die oorwegende duisternis weens die 50 uur kragonderbreking in die dorp, was daar die naweek darem vele ligpunte toe die gemeenskap weer gewys het hoe hulle mekaar in 'n krisis by kan staan.

WITRIVIER – Rustig Ouetehuis se kragopwekker het Vrydagoggend nie gewerk nie.
“Dit is ‘n groot probleem as ‘n mens in ag neem dat van die inwoners suurstofmasjiene gebruik,” verduidelik Bruce Macaulay.
In sulke noodgevalle gebruik hulle suurstofbottels, maar dié hou net ‘n paar uur voor die suurstof opraak. “Beurtkrag duur gewoonlik net ‘n paar uur, so daarvoor is ons gereed, maar niemand verwag dat die krag vir 50 uur af gaan wees nie,” het hy vir Laevelder gesê.
Macaulay het ‘n boodskap vir die manne van AfriForum Witrivier Buurtwag gestuur.
“En siedaar! ‘n Paar minute later het hulle hier gestop met ‘n kragopwekker en diesel. Dit was wonderlik. Toe kon ons letterlik en figuurlik weer asemhaal en die yskaste ook aanhou.”
LEES OOK: #NelspruitEisteddfod40: So lyk die beoordelaars van die Afrikaanse afdeling
Boonop kon hulle twee van die swakker inwoners ook Mopani Apteek Witrivier toe neem om daar aan suurstofmasjiene gekoppel te bly.
“Hulle het ons ‘n paar duisend rand en twee lewens gespaar,” sê Macaulay.
Saterdag het Panarottis i’langa Mall weer vir die werkers kos gaan aflewer waar hulle onverpoosd gewerk het om die transformator te herstel.

“Wat ‘n inspirerende daad van welwillendheid,” het Thea Rix gesê. Panarottis-eienaar Petrus van Zyl en sy staf het vir 20 mense pizza gemaak en dit saam met drankies afgelewer.
Caltex Witrivier het Saterdag ook vir die werkers koffie geneem.
LEES MEER: White River blackout update: Saturday at 09:00
Rix voeg by dat hoewel daar goeie ondersteuning was, was sommige inwoners ook onregverdig. “Ek verstaan mense se frustrasie, maar baie van hulle was baie onregverdig.
“Die transformator ís op 7 Julie hersien en mense het baie hard gewerk om kragtoevoer te herstel. Hierdie goed gebeur. Ek dink 50 uur was baie vinnig om te doen wat hulle gedoen het.
“Die groot ding is dat hulle dit vinnig weer aangesit het, terwyl hulle aanhou werk het.”
