Skote in die wildtuin: SANParks verduidelik
Bewerings dat 'n hond Saterdag in die Nasionale Krugerwildtuin voor toeriste met 'n aanvalsgeweer van kant gemaak is, het diereliefhebbers die harnas ingejaag.
PRETORIUSKOP – In ‘n Facebook-plasing wat oorspronklik deur James Jansen van Vuuren gemaak is, word daar beweer dat ‘n troetelhond Saterdag naby een van die wildtuin se hekke deur veldwagters doodgeskiet is. Die plasing is in die SANParks-Kruger National Park-groep gedeel.
“Ons het ‘n bang hond sien hardloop langs die pad by een van die Krugerwildtuin se uitgangshekke. Omdat ons bekommerd was, het ons langs hom gestop. Agter die hond was ‘n Toyota Hilux met van die park se veldwagters in. Hulle het ‘n AK47 uitgetrek en die hond reg voor ons geskiet,” lui die plasing.
“Ons hele naweek is bederf en ons harte is gebreek. Ongeag of so iets toelaatbaar is of nie, jy doen dit nie in die oog van toeriste nie.”
LEES OOK: Nasionale Krugerwildtuin se Duke word herenig met teenstroopeenheid se veldwagters
SANParks het gister in ‘n verklaring op hul Facebook-blad gesê dat hulle met ‘n veldwagter in Pretoriuskop oor die voorval gepraat het.
“Daar was berugte van ‘n stroper se hond by die heining tussen Phabeni en Pretoriuskop. Veldwagters is na die toneel ontbied. Hulle het die hond gesien en ‘n ronde skote afgevuur. Die hond is nie raakgeskiet nie en hy het gevlug na ‘n nabygeleë bos,” het die verklaring gelui, en bevestig dat die hond nie gesterf het nie.
“Die plasing wat gemaak is reflekteer nie die ware storie nie en ons het geen rede om die verklaring van die veldwagter te betwyfel nie. Dit is ‘n jammerte dat die persoon wat die plasing gemaak het, nie klarigheid gesoek het voordat hy dit aan die publiek verkondig het nie.”
Jansen van Vuuren het nie gereageer toe die koerant hom genader het vir kommentaar oor die voorval nie.
LEES OOK: KYK: Só word slange hanteer in die Nasionale Krugerwildtuin
