Local newsNews

KYK: Bobaas biepbalspeler Jason Esterhuizen kraai koning op die veld

Dié voormalige inwoner van Mbombela het vir Philly Fire in die toernooi, wat in Oklahoma gehou is, uitgedraf.

MBOMBELA – In Februarie vanjaar het Jason Esterhuizen vir die heel eerste maal biepbal, bofbal vir siggestremdes, gespeel. Verlede week, slegs ses maande nadat hy vir die eerste keer ‘n kolf geswaai het, het hy aan dié sport se wêreldtoernooi deelgeneem.

“Een oggend was ons op die veld toe ‘n sirene afgaan om ons te waarsku teen ‘n storm. Jy kan net dink hoe lyk dit as 200 blinde mense hul sakke optel en probeer om na bussies te hardloop,”

het Jason laggend vertel. Sy sin vir humor is so skerp soos altyd, iets wat hy al gesê het hom sedert sy ongeluk baie gehelp het.

LEES OOK: VIDEO: Lig in Jason Esterhuizen se stryd teen blindheid

Laevelder het voorheen berig dat Jason op 23-jarige ouderdom sy sig na ‘n motorongeluk verloor het. Hy en sy vrou Sumarie het verlede jaar na die VSA verhuis waar Jason deel is van ‘n proefstudie om gedeeltelik sy sig te herstel.

Sumarie en Jason Esterhuizen.

As deel van dié proefstudie het hy ‘n Orion-kortikale inplantaat gekry wat deur ‘n eksterne toestel beheer word en elektrodes stimuleer om hom te help om beweging te sien en tussen lig en donker te onderskei. Om in die VSA aan te pas het Jason aanvanklik by verskeie Facebook-blaaie vir siggestremdes aangesluit. Op een van hierdie groepe het hy vriende gemaak met iemand wat hom van die sport vertel het.

LEES OOK: ‘n Sprokiesdag vir Jason en Sumarie

“Op skool het ek vir die kaas-en-wynspan rugby gespeel en ek was glad nie sportief nie,” het Jason gesê. “Ek het eendag met my denim en tekkies by ‘n plaaslike groep gaan aansluit. Ek het die bal raakgeslaan en toe ek weer sien is ek in ‘n span.”

Die Orion-kortikale inplantaat gebruik hy egter glad nie wanneer hy biepbal speel nie. “Almal word geblinddoek om die speelvlak gelyk te maak,” het hy verduidelik.

https://www.facebook.com/PantherBeepBall/videos/pcb.480351862531877/2192089817568128/?type=3&theater

 

“Daar is ses blinde mense in ‘n span. Afgesien van die ses kry jy ‘n gooier en ‘n vanger – dit is die enigste twee siende persone in die span. As dit byvoorbeeld my beurt is om te kolf, sal die siende persoon die bal wat ‘n geluid maak vir my gooi. As ek die bal raakslaan, sal een van die ruste ook ‘n geluid begin maak. Sou ek by die rus kom, voordat die ander span die bal vang, dan is dit ‘n punt in my span se guns.”

Jason het gesê dat dit vir hom ‘n ongelooflike ervaring was om deel van so ‘n span te wees.

“Dit gaan net weer oor die vryheid. Om as blinde persoon te weet jy kan hardloop en in niks vashardloop nie, is ‘n ongelooflike byvrydende en bemagtigende gevoel.”

Vir hom was dit ook heerlik om nuwe vriende van regoor die VSA te maak.

Jason gaan binnekort vir verdere toetse om hopelik eendag sy sig te herstel. Vir nou is hy en Sumarie egter gelukkig in Los Angeles en sien hy uit na die volgende keer wat hy die kolf kan swaai.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button