FOTO’S: Geliefde Matimba se brul vir altyd stil
Moholoholo se geliefde Matimba, 'n 26 jarige leeumannetjie wat vyf jaar gelede sy intrek by die sentrum gemaak het, is aan die begin van Augustus uitgesit.

HOEDSPRUIT – “Matimba se brul sal altyd gemis word,” vertel die sentrumbestuurder, Brian Jones. “As jy sy naam hardop geroep het, het hy altyd teruggebrul.”
Matimba se ouderdom het hom lelik begin inhaal die afgelope paar maande, “veral as ‘n mens in ag neem dat ‘n leeu in die wild eintlik net tussen 10 en 14 jaar oud word. Hy het elke dag al hoe minder energie gehad en gesukkel om te loop.”

Matimba word oorleef deur sy wyfie, Tamu. Die paartjie het in 2014 na Moholoholo verhuis vanaf ‘n nabygeleë teler om hul aftrede te geniet.
LEES OOK: Urgent steps should be taken to save vultures
“Dit was altyd ‘n plesier om die onvoorwaardelike liefde tussen die paartjie te aanskou,”
vertel Jones. Hy voeg by dat so sag en dierbaar soos wat Tamu is, so knorrig kon Matimba ook maar wees.

Hulle gaan nie ‘n ander maat vir Tamu kry nie, aangesien sy te oud is.
“Tamu hanteer die verlies van Matimba baie beter as wat ‘n mens sou kon verwag. Ons monitor haar noukeurig om seker te maak dat sy gelukkig en gesond bly, en sonder enige tekens van spanning.”
LEES OOK: Mother leopard has first successful litter after decade of trying

