Local newsNews

Natuurlewe herleef op Kaapsehoop

'n Rehabilitasieprojek, 'n samewerking van die Kaapsehoop Heritage Association, die Mpumalanga Toerisme en Parkeraad (MTPA) en Safcol is besig om vrug te dra.

KAAPSEHOOP – Die natuur is besig om nuwe lewe te vind by die Battery Creek-ravyn.

Met die aanvang van bosbou-aktiwiteite in die gebied rondom Kaapsehoop etlike dekades gelede, is groot dele van die natuurlike grasvlaktes vernietig.

Een van hierdie ekostelsels wat ernstig bedreig word, is die kwartsiet-grasvlakte aan die bokant van die ravyn.

Sommige van die dennehoutplantasies al langs die ravyn is ‘n jaar of twee gelede uitgekap, en danksy die nuutste omgewingsriglyne vir kommersiële boubedrywighede, mag daar geen nuwe aanplantings in ‘n 30-meter-strook langs die rant van ‘n kloof gedoen word nie.

Daar was geen gras meer nie, en indringerspesies soos Australiese wattels, braambosse en die verfoeilike groot bitterappelplante (bug weed) het alles oorgroei, en geen beweegruimte vir enige van die kleinwild en predatore wat natuurlik hier voorkom, gelaat nie.

Brian Morris, ‘n toesighoudende bestuurder by die MTPA, staan aan die stuur van hierdie broodnodige rehabilitasieprojek.

Dit word deur die Kruger to Canyon-stigting, ‘n organisasie sonder winsoogmerk, befonds.

KYK: Geliefde Matimba se brul vir altyd stil

“Verlede jaar in November toe ons met die rehabilitasieprojek begin het, was dit net wattels, dennehoutstompe en honderde bitterappelplante wat daar gegroei het,” het Morris vertel.

“Van gras was daar nie sprake nie. Ons het die wattels afgesaag en die hout asook die dennehout wat agtergelaat is, in stompe gesaag en so gepak dat dit erosie kan voorkom.

“Hierna het ons die gras begin saai. Daar is ses verskillende soorte Hoëveldgras en Eragrostis tef (oftewell teff) oor ‘n gebied van 3,6 ha al langs die ravyn gesaai.

Die grassoorte sluit in: breëblaar-terpentyngras, bitterterpentyngras, Smutsvinger, assegaaigras, Natalse rooipluim en sekelgras.”

Francois de Wet, ‘n ekoloog, het nou saam met hulle gewerk en het gehelp met die keuse van die grasse.

“Danksy goeie reën in die laat somermaande het die gras goed ontkiem. Bykomend by die aanplant van die gras het ons ook ‘n area van ‘n kwart hektaar inheemse woud skoon gemaak van alle indringerplante.”

“Dis wonderlik om te sien hoeveel kleinwild nou in die area opgemerk word,” het Morris gesê.

Die werk is nog nie afgehandel nie, maar hy is opgewonde oor die herlewing van die natuur wat reeds aan die gebeur is.

Enigeen wat belangstel in verdere inligting rakende die projek, of wat wil help met die uitwissing van indringerplante, kan Morris kontak by 084-579-7979.

SIEN OOK: Ready, set, bet for charity

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button