Oud en jonk wys liefde vir Mathys Roets
Te oordeel aan hoe hulle na die tyd saam met hom foto's geneem het en hom herhaaldelik toegejuig het en gevra het vir 'n encore, is dit duidelik dat die Laeveld vir Roets en sy musiek lief is.

MBOMBELA – Met die lente wat sy kop wil-wil uitsteek het Mathys Roets verlede Vrydagaand by The Pub vir ‘n aand van volmaandrome gesorg.
Die plek was volgepak met oud en jonk wat aangesit het om te luister na die sanger se sterk stem wat die wildste hart kan tem.
Hy het afgeskop met Neil Diamond se “Hello”, gevolg deur die pragtige liedjie “Sprokies van ‘n Stadskind” uit Koos du Plessis se pen.
‘n Groot gunsteling was natuurlik ook “Droomvrou”.
“Dit is 10 jaar sedert my ongeluk.” het Roets van die verhoog af vertel, met verwysing na die ongeluk wat hom ‘n parapleeg gemaak het.
LEES OOK: Geliefde Matimba se brul vir altyd stil
“As jy by ‘n inkopiesentrum sit, moet jy nie ‘n blikkie koeldrank drink nie. Mense gaan geld daarin gooi,” het hy geskerts.

Hy het vir Laevelder gesê hy werk aan ‘n nuwe album, wat na verwagting in 2020 sal uitkom.
“Ek het nuwe liedjies self getoonset, en ook een of twee wat ek self geskryf het. Ek werk nou lekker daaraan; ek wil hê dit moet reg wees.”
Roets het wel tydens Innibos ‘n nuwe album vrygestel saam met joernalis en storieverteller, Dana Snyman. “Ek sing ‘n bietjie en hy praat en vertel stories.”
Roets bestuur self (en alleen) en is baie op die pad.

“Ek ry volgende week Noord-Kaap toe. Ek was nou die week by Malalane en Komatipoort om gholf te speel en ‘n bietjie in Barberton om te sing.”
Dat hy vir niks bang is nie, is ‘n feit. Hy is ook in April getroud met sy jare lange meisie, Jané Litsenborgh.
“Die mense in die Laeveld moet nooit verander nie. Julle is lekker mense,” is sy boodskap aan sy aanhangers. “Dit gaan vir my oor die mense.
“Bly wie jy is; dit is nie ‘n kompetisie nie. Die Laeveld is iets besonders en hou dit so.”
LEES OOK: Ready, set, bet for charity
