Local newsNews

Trietsige weer bederf nie oues se mark

Macadamia Village in Witrivier se onlangse vrolike môremark was net die regte teenvoeter vir die trietsige weer wat daardie oggend geheers het. 

Uitstallers het gespog met hul handewerk, wat gewissel het van handgemaakte lappoppe en popklere tot selfs uitrustings vir hul geliefde brakkies.

Daar was kralewerk en snuisterye te kies en te keur. ‘n Skoonheidsterapeut het nie net raad uitgedeel nie, maar ook vars uitgedrukte wortelsap verkoop as ‘n gesonde lafenis vir die heerlike eetgoed.

Die vroue by die pannekoektafel kon nie voorbly met bestellings nie en die innerlike is verder versterk met vetkoek en maalvleis en varsgebakte koek, afgesluk met ‘n koppie tee of koffie, asook tuisgebakte beskuit, boereworsrolletjies en selfs egte, varsgemaakte Indiese samoosas.
Nicky Gerke van Mom’s Kitchen-faam, het fluks bemark aan haar tuisgemaakte, gevriesde maaltye (wat sy tuis aflewer), terwyl sy bekersvol warm sop verkoop het.

LEES OOK: Karnaval weer ‘n lekker plek om te wees

Die markgangers is ook getrakteer op sang deur die Hummingbirds onder leiding van Felicia Lemmer en Louis Trichardt.
Hulle is ‘n vroue-sanggroep en bestaan uit Lemmer, die sangafrigter en musiekonderwyser, asook Madelein Kritzinger, Lynette Holtzhausen en Desiré Raath.

Trichardt, een van ons land se mees gesogte landskapargitekte, woon sedert 2007 in die Laeveld. Hy sing reeds sedert sy skooldae en ontvang by Lemmer stemafrigting.

LEES OOK: Bekende dagblad redakteur besoek die Laeveld

Die meeste van die vroue se kinders neem by Lemmer sanglesse; hulle het eendag spontaan saam begin sing en dit so geniet dat die Hummingbirds gebore is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button