Gewigtige slang maak hom op makadamiaplaas tuis
Met die somer wat vinnig besig is om aan te breek, raak slange meer aktief.

WITRIVIER – Slange se maande van hibernasie kom nou tot ‘n einde en die meeste van hulle is óf op soek na eetgoed, óf net ‘n warm plek om in die son te lê en bak.
Dit was juis verlede Donderdag nogal ‘n gestoei van ‘n ander aard tussen Gerhard de Beer, ‘n bestuurder by J&M Sekuriteit, en ‘n luislang wat onverwags sy opwagting op ‘n plaas in Brondal gemaak het.
De Beer sê die werkers op die plaas Roodewal, waar daar onder meer met makadamias geboer word, het hulle geskakel met die nuus dat ‘n luislang in die lyne waar hulle besig was om te werk, lê.

“Ek het uitgegaan en die slang gekry waar dit in ‘n bosagtige gebied skuiling gesoek het.
“Gelukkig het die werkers kopgehou en nie soos die meeste mense doen, weggehardloop nie.
“Hulle het die heeltyd ‘n ogie oor die reptiel gehou. Dit was dus maklik om die slang op te spoor,” vertel De Beer.
SIEN OOK: WATCH: Furious rhino attacks a car
Hy sê die slang, wat later as ‘n mannetjie geïndentifiseer is, was nogal erg aggressief toe hulle hom probeer vang het.
“Maar toe ek hom eers aan die kop beetgekry het, was hy dood kalm.”
Die luislang was sowat vier meter lank en het die skaal op ‘n gewigtige 37 kg getrek.

De Beer, ‘n geregistreerde slangvanger, sê daar is besluit om die slang nie van die perseel af te verwyder nie, maar het dit sowat twee kilometer daarvandaan in ‘n ongerepte deel van die plaas vrygelaat.
“Ek was bly die werkers het kopgehou en dit nie doodgeslaan nie.
Negentig persent van die mense is maar gewoonlik bang vir slange, maar as dit nie was vir die 10 % van ons wat omgee vir reptiele, sou daar baie minder van die reuseslange oorgebly het.”
LEES OOK: Thousands pilfered from GRIP
